Update
GEORGE NUUS - Die polisie is tans besig met 'n ondersoek na die motorongeluk in Knysnaweg verlede week waarin 'n plaaslike biokinetikus, Quinten Potgieter (27), gesterf het. 'n Saak van roekelose en of nalatige bestuur is geopen en kringtelevisiebeeld-materiaal word nagegaan.
Die Potgieter-gesin het gistermiddag, Woensdag 20 Julie, van Quinten afskeid geneem met 'n gedenkdiens by Eden-gemeente.
Dit is die tweede kind wat die Potgieter-egpaar, Adele en Chris, aan die dood moes afstaan. Adele Potgieter het gister bevestig dat hulle gestremde seun, Sean, op sesjarige ouderdom in 2003 aan longontsteking gesterf het.
Quinten het verlede Woensdag, 13 Julie, in George-hospitaal gesterf na 'n botsing dieselfde aand, omstreeks 19:45, in Knysna-weg.
Hy was op pad terug huis toe met sy Chevy Sonic na 'n oefensessie met die Crusaders-rugbyspan by Rosemoor-stadion toe die ongeluk by die Le Vallia-afdraai plaasgevind het.
Die Potgieter-gesin: Quinten (links) en sy ma, Adele, saam met sy pa, Chris (agter links) en sy broer, Estian.
Buurtwagkameras
Dries Swanepoel, operasionele bestuurder van Bergsig-buurtwag, het bevestig dat kringtelevisiebeeldmateriaal van die ongeluk deur die polisie aangevra is.
"Die polisie vra ons soms om te help met sake, aangesien Bergsig-buurtwag kameras langs Knysnaweg aangebring het. Ek moet ook soms getuig in sekere sake, en daarom kan ek nie op hierdie stadium meer inligting oor die ongeluk verskaf nie."
Volgens Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, is niemand op hierdie stadium aangekla nie, en is die ondersoek nie tans op 'n spesifieke persoon gemik nie. "Die omstandighede van die ongeluk word wel ondersoek," het hy gesê.
"Daar is wel beeldmateriaal beskikbaar wat deur die ondersoeker verkry is en deurgegaan word. Ons kan egter nie die inhoud daarvan aan die publiek beskikbaar stel nie aangesien dit deel is van die ondersoek en as 'n bewysstuk (materiaal) beskou word.
Sodra die ondersoek voltooi is, sal dit aan die senior staatsaanklaer (NVG) voorgelê word vir beslissing. Steeds word ooggetuies versoek om na vore te kom en die George-polisie se speurafdeling te kontak by 044 803 4715 of Stop Misdaad by 08600 10111."
Die Jaguar (op die foto) was onderweg vanaf Knysnaweg in die rigting van die Garden Route Mall.
Die ongeluk
Pojie het bevestig dat twee voertuie in die botsing betrokke was – 'n Jaguar wat onderweg was vanaf Knysnaweg in die rigting van die Garden Route Mall, en 'n Chevy wat vanuit Le Vallia op pad was.
Potgieter is ernstig beseer en is na George-hospitaal geneem.
Volgens Quinten se ma het nooddiens-beamptes hom op die toneel probeer bybring. "By die hospitaal het hulle vir ons gesê dat hy erge kopbeserings het. Quinten het rondom 20:30 aan sy beserings beswyk." Volgens Pojie was die bestuurder van die Jaguar ongedeerd.
Die oorledene se pa, Chris, was in Worcester toe hy die nuus van die ongeluk ontvang het. "Hy het teruggery na George en was teen middernag hier," het Adele Potgier gesê.
In sy Facebook-inskrywing sê Chris Potgieter hy skryf met 'n gebroke hart, en dat sy seun se dood 'n groot terugslag vir die gemeenskap is.
Adele Potgieter deel ook op Facebook 'n boodskap aan haar seun: "My hart is stukkend, nog 'n deel van my is weg. Dankie vir alles, dat jy my seun was, my kind, my roomie, my person. I love you."
Sy beskryf hul oudste seun as 'n baie groot sportman, wat lief was vir die lewe. "Hy was die Arende se conditioning coach, wat moes sorg dat die manne fiks bly," het sy vertel.
Quinten se praktyk, Potgieter & Pike Biokineticists, praktiseer by Groenkloof se Wellness-sentrum, by Genevafontein en ook in Sedgefield.
Quinten was 'n oud-Kwagga en is in George gebore en getoë. Hy het onlangs sy meestersgraad in biokinetika aan Nelson Mandela Universiteit voltooi en sou later vanjaar sy graad ontvang.
Quinten word oorleef deur sy ouers, Chris en Adele, sy jonger broer Estian (22) en sy meisie, Tyra van Niekerk.
Quinten Potgieter, die bestuurder van die Chevy, het aan sy beserings beswyk.
Quinten was ‘n groot sportman wat lief was vir die lewe.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'