GEORGE NUUS - Restaurante en kuierplekke, wat reeds steier onder die ekonomiese impak van die koronavirus, het nog ‘n terugslag gekry.
Luidens ‘n verklaring wat deur Mmamloko Kubay-Ngubane, minister van toerisme, uitgereik is, moet alle restaurante, kafees, kroeë en koffiewinkels vannag, Donderdag 26 Maart, om middernag sluit ingevolge die algehele uitsluitingstappe wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is.
Dit geld ook vir alle voedsel-afleweringsdienste. Hulle kan eers weer hul dienste hervat op Vrydag 17 April.
Streng regulasies is verlede week ingestel oor die verkoopsure van kos en drank by restaurante en hotelle. Tot voor vannag om 24:00, wanneer die algehele uitsluiting in werking tree, kon restaurante en hotelle slegs tussen 09:00 en 18:00 op weeksdae en Saterdae drank verkoop.
Sondae en openbare vakansiedae was dit slegs tussen 09:00 en 13:00.
Voor nuwe aankondiging
Reeds voor Ramaphosa se aankondiging oor 'n algehele inperking het sommige instansies in die bedryf al tydelik hul deure gesluit.
Cactus
Cactus, 'n baie gewilde kuierplek, het reeds die afgelope Saterdag sy deure onbepaald gesluit. Richard Kershaw van Cactus het gesê dit is onwaarskynlik dat hulle voor middel Junie weer sal heropen. Die regulasies het 'n impak en ongelukkig raak dit ook die personeel.
Salinas
Salinas in Wilderness is ook tydelik gesluit. Die eienaar, Massimo Mariotti, het gesê dit is vir ten minste 'n maand gesluit. Hy het dit as ‘n baie moeilike situasie beskryf wat ook die personeel raak. Die besluit om tydelik te sluit is omdat hulle 'n morele verpligting het om te keer dat die virus verder versprei.
Kaaimans-restaurant
Adelaide Claassen, een van die eienaars van die Kaaimans Restaurant, het gesê daar was sowat 70% minder kliënte.
Mense is bang om uit te gaan. Die tyd van die jaar is die restaurant gewoonlik baie besig. Hulle het baie aanpassings gemaak, besoekers se hande gewas en stoele en tafels gereinig elke keer as dit gebruik is. Hulle het die laaste paar dae net kern-personeel gebruik.
“Ons neem dit een dag op 'n slag. Ek is baie dankbaar vir die lojale personeel,” het sy gesê.
De Dekke
Anton Leonard, eienaar van De Dekke, het gesê dit gaan nog 'n sneeubal-effek hê. Almal in die gasvryheidsbedryf gaan dit voel - veral restaurante. Omset is beslis is minder. Van verlede Maandag tot afgelope Sondag het dit by hulle gedaal met 21%.
Ocean Basket
‘n Woordvoerder van die Ocean Basket by die Garden Route Mall het gesê die eetplek was nie so besig soos gewoonlik nie. Mense het meestal wegneemetes bestel.
Spur
By die Spur in Yorkstraat was daar ook minder besoekers. ‘n Woordvoerder het gesê sowat 50% minder mense het die eetplek besoek. By hul restaurant moes alle besoekers vormpies met hul besonderhede invul. Dit is in ooreenstemming met staatsregulasies.
Restaurants and entertainment venues, which are already under economic stress due to the impact of the coronavirus, have suffered another setback. According to a statement issued by Minister of Tourism Mmamloko Kubay-Ngubane, all restaurants, cafes, bars and coffee shops must close at midnight tonight, 26 March, in accordance with the lockdown President Cyril Ramaphosa announced on Monday.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'