"Die George-munisipaliteit is verheug oor die status, maar niemand het ons op enige stadium geken in die hele proses om die status te verwerf nie," het rdl. Leon van Wyk, finansiële portefeulje voorsitter vir George en wykraadslid vir Wildernis Dinsdag gesê.
Van Wyk het verduidelik dat die proses deur Eden-distriksmunisipaliteit en SANParke gedryf is, maar die finansiële implikasies wat volg sal op die George-munisipaliteit rus. Hy het erken dat een van die implikasies die vergoeding van lewensredders op die blouvlag-strand behels.
"Die George-munisipaliteit betaal al 'n hele aantal jare die lewensredders se salarisse, waarna ons 'n gedeelte van die geld van SANParke terug eis. Noudat die blouvlag-status toegeken is, word daar nie eers melding gemaak van die George-munisipaliteit nie. Ons het ook géén krediet daarvoor ontvang nie."
Van Wyk het ook namens die stadsraad sy ontevredenheid uitgespreek oor die feit dat SANParke na die toekenning van die blouvlag-status gevra het of hulle (George-munisipaliteit) voortaan die lewensredders se salarisse ten volle sal betaal. "Dit na Eden en SANParke vereer word en nie 'n woord oor die George-munisipaliteit gesê word nie," het Van Wyk gesê met verwysing na die amptelike funksie waar die blouvlag gehys is en betrokkenes vereer is.
"Eden het verpligtinge aangegaan waar kostes en instandhouding verbonde aan gaan wees. Hierdie is 'n situasie wat tussen ons en Eden uitgesorteer sal moet word en vergaderings sal belê word met hulle, asook SANParke."
Volgens Van Wyk dui alles daarop dat George eers die lewensredders sal moet betaal, maar hy het gesê hulle gaan die geld terug eis van óf Eden, óf SANParke. "Hulle het verpligtinge op ons gesit wat nou nagekom moet word."
Eden se uitvoerende burgemeester, Wessie van der Westhuizen het gesê hy is bereid om met George-munisipaliteit in gesprek te treë.
"As ons gefouteer het sal ek die eerste een wees om jammer te sê, maar daar moet onthou word dat 'n hele aantal B-munisipaliteite al jare lank ons fasiliteite gebruik en ons kry nie 'n sent daaruit nie." Hy het bygevoeg dat Wildernis se blouvlag-status nie oor eer gaan nie, maar oor 'n diens aan die mense wat die strand gebruik.
"Ek sal in ieder geval die situasie met my amptenare opneem en ek soek antwoorde indien daar verkeerd gekommunikeer is.

Wildernis se strand het nou vyfster-status, maar wie gaan betaal vir onkostes wat aan dié status gekoppel word?
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS