Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Springbokrugbyspeler, 'n etiketkenner, 'n internasionaal bekende wetenskaplike, 'n Mej. Heelal en 'n Afrikaanse sanger het op die oog af nie veel in gemeen nie, maar tog het hulle almal 'n groot gemene deler: almal het op die skoolbanke van een van die land se bekendste skole, Hoërskool Outeniqua in George, gesit.
Die bekendes, Warrick Gelant, Emsie Schoeman, wyle prof. Arthur Blecksley, Mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters en Gert van Tonder is almal oudleerders van die bekende skool waaroor 'n nuwe boek geskryf word.
Chris Hattingh, adjunkhoof: akademie, het by navraag bevestig dat hy begin het om so 'n boek saam te stel. Dit sal die eerste keer wees dat so 'n boek verskyn en die plan is om dit in gedrukte en digitale formaat in September 2022 te publiseer sodat dit met die skool se 100-jarige bestaan in 2023 kan saamval.
Hattingh het gesê die doel van die boek is om die geskiedenis van die skool te verwoord.
Dit sal nie in 'n jaarbladstyl verskyn nie, maar eerder in 'n verteltrant.
Chris Hattingh, adjunkhoof: akademie van die Hoërskool Outeniqua wys 'n foto van Warrick Gelant, Springbok-rugbyspeler en 'n oudleerling.
Chris Hattingh, adjunkhoof: akademie van die Hoërskool Outeniqua by 'n foto van Abrie de Swardt wat onlangs oorlede is. De Swart het in 1967 matriek by die skool geskryf.
Dit sal vertel van die leerlinge wat later bekend geword het en hoe hul loopbane gevorder het en ook van die onderwysers en selfs hoe hulle hul byname gekry het.
Hattingh self kom al 'n lang pad saam met die skool. Hy sal aanstaande jaar 40 jaar aan die skool verbonde wees. Vanweë sy liefde vir geskiedenis, het hy vanuit die staanspoor belanggestel in die geskiedenis van die skool. Die tema van die boek is: Kwaggas is ligdraers.
Kyk 'n video hieronder:
Hy het reeds met die navorsing begin en daar het interessante inligting na vore gekom. Oor die jare heen was daar meer as 750 onderwysers verbonde aan die skool. Hy het saam met meer as 400 van hulle gewerk en ken dus baie van die onderwysers persoonlik. Tot op hede het sowat 25 000 leerlinge die skool bygewoon. Benewens die talle bekendes is daar oudleerlinge wat diep spore getrap het.
Onder hulle is 35 oudleerlinge wat professore by akademiese instellings in Suid-Afrika en die buiteland geword het. Vyf van hulle het as regters gedien.
Chris Hattingh, adjunkhoof: akademie van Hoërskool Outeniqua wys 'n foto van Miems de Bruyn, aktrise en radiopersoonlikheid. Langs haar is 'n foto van nog 'n bekende oudleerling Emsie Schoeman, die etiketkenner.
Hattingh benadruk dat hy dit nie op sy eie kan doen nie.
Mense kan staaltjies en foto's van historiese belang (wat nie voorheen in jaarblaaie verskyn het nie) stuur aan: akademie@outeniqua.co.za.
Chris Hattingh, adjunkhoof: akademie van die Hoërskool Outeniqua wys 'n foto van Johan Heunis, Springbok-rugbyspeler en 'n oudleerling van die skool. Foto's: Eugene Gunning.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'