GEORGE NUUS - Inwoners wat gal braak oor hul bure se honde wat aanhoudend blaf moet bereid wees om te getuig in die munisipale hof. So het die direkteur van beskermingsdienste, Steven Erasmus, gesê, na aanleiding van 'n navraag oor steurende dieregedrag.
Menige inwoners loop deur wanneer hul bure met vakansie gaan en viervoetige vriende vir dae alleen tuis los. Dit kan veroorsaak dat die dier vir dae lank sonder ophou blaf en almal in die onmiddellike omgewing na raserny dryf.
In 'n onlangse voorval het 'n groep inwoners van George 'n petisie geteken waarin hulle vra dat die munisipaliteit optree teen die eienaar van 'n hond wat glo dwarsdeur die nag, tot in die vroeë oggendure, aanhou blaf.
Erasmus het gesê dat die wetstoepassingsafdeling afhanklik is van 'n getuigskrif om 'n boete uit te reik. "Oor die algemeen word 'n hond nie altyd 'uitgevang' dat hy aanhoudend blaf wanneer wetstoepassingsbeamptes 'n plek besoek nie en is hulle afhanklik van 'n getuigskrif om 'n boete uit te reik," het hy gesê.
"Die munisipaliteit verwelkom 'n petisie, maar dit is ook belangrik dat iemand 'n getuigskrif by wetstoepassing invul en bereid sal wees om in die munisipale hof te verskyn om te getuig indien die oortreder kies om nie skulderkenning te betaal nie en eerder hof toe wil gaan."
Die George-munisipaliteit se bywet vir die voorkoming van openbare steuring en die aanhou van diere stipuleer dat geen persoon 'n dier mag aanhou wat met die normale gemak van 'n persoon inmeng nie, met ander woorde 'n aanhoudende geblaf en getjank word nie toegelaat nie. Om sulke gevalle aan te meld, kontak wetstoepassing by 044 801 6350 of 044 801 6300 (na-ure).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'