Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Die gebrek aan krag en werkende toilette het grondbesetters van die plakkerskamp Moeggehuur in New Dawn Park tot nóg 'n protesaksie genoop.
Inwoners het owerhede se aandag getrek toe hulle verlede Donderdag 'n Go George-bus in Proteastraat met brandende bande en planke vasgekeer het.
Moeggehuurders het sowat twee maande gelede (31 Oktober) voor die George-munisipaliteit opgeruk - ook oor die kragsituasie. "Dis amper Kersfees en ons het nie beligting nie," het een betoger gesê.
Die grond wat beset word behoort aan die departement van openbare werke en George-munisipaliteit moet wag tot die oordrag plaasvind alvorens hulle dienste kan verskaf.
Die direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, het onderneem om teen vandag, Donderdag 12 Desember, aan die geaffekteerdes terugvoer te gee en 'n vorderingsverslag met hulle te bespreek.
Kyk 2 video's hieronder:
George-burgemeester Melvin Naik, Lubbe, sowel as Reggie Wesso, in sy hoedanigheid as waarnemende munisipale bestuurder, het betogers verlede week toegespreek. Lubbe het by navraag gesê dat die gemeenskap ingelig is oor die stand van sake.
Die munisipaliteit was tot verlede week nog in afwagting vir terugvoer van openbare werke rakende hul versoek om dienste te voorsien. "Ons het intussen die terugvoer bekom," het Lubbe gesê.
"Ons regsadviseur, Johan van Schalkwyk, het ons daarop gewys dat ons nie dienste kan voorsien op grond wat onderhewig is aan 'n hofgeding nie. Indien die grond egter oorgedra is, kan die munisipaliteit voortgaan met die nodige beplanning, uitlegte en grondgebruikaansoeke om uitvoering te gee aan die versoeke van die gemeenskap. Hierdie bevestiging vir oordrag is egter nog steeds uitstaande."
Grondbesetters het laat blyk dat 'n gebrek aan terugvoering hulle frustreer en dat hulle om hierdie rede protesaksies loots.
'n Vorige hofuitspraak oor die lot van die grondbesetters was ten gunste van die plakkers.
Die hof het beslis dat die munisipaliteit en die betrokke provinsiale departemente met 'n plan vorendag moet kom om die mense te akkommodeer.
Lees 'n vorige arikel | Opvolg: Moeggehuur wag op antwoorde
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'