Update
GEORGE NUUS - 'n Lang ry hoopvolles het gisteroggend, Woensdag 9 Desember vir twee ure en veertig minute na oopmaaktyd om 08:00 voor 'n toe hek by die munisipale voertuiglisensiekantoor en toetsstasie in Hiberniastraat gestaan en wag.
Ofskoon heelwat mense teen 09:28 maar handdoek ingegooi het, het sommige besluit om nog 'n rukkie langer te wag in 'n poging om hul lisensies te hernu.
Dit volg nadat 'n munisipale kennisgewing Dinsdagmiddag versekering gegee het dat dié afdeling gisteroggend om 08:00 oop sou wees om kliënte te bedien. George-munisipaliteit het omstreeks 10:00 'n kennisgewing uitgestuur waarin hulle om verskoning vra vir die vertraging met die heropening van die perseel.
Die perseel was die vorige dag gesluit weens Covid-19 verwante maatreëls.
Volgens die munisipale kennisgewing gisteroggend het die hekke teen 10:00 oopgemaak, maar kon slegs 'n beperkte aantal kliënte bedien word luidens Covid-19-maatreëls.
Hulle het ook net 'n beperkte aantal kassiere vir die dag aan diens gehad. 'n Persoon wat reeds voor 08:00 by die hekke gewag het, het egter bevestig dat die hekke eers teen 10:41 geopen het.
George Herald se ontvangsdame het gister talle oproepe oor die aangeleentheid ontvang.
Dié maatskappy se eie drywer moes ook Woensdagoggend voor dooiemansdeur omdraai toe dit duidelik is dat die lisensiekantore steeds gesluit is.
Inligting wat op die toneel met die drywer gedeel is dui daarop dat drie kassiere hulself beskikbaar gestel het vir diens Woensdagoggend.
Teen 09:28 het heelwat mense maar hul poging om lisensies te hernu laat vaar. Hierdie groep mense het besluit om te wag en kyk wat gebeur.
Vorige artikel: Frustrasie oor toe hekke by Lisensiekantoor
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'