Dit was die groetwoorde van die plaaslike sakeman Karl Stellenberg (51) aan sy vrou, Frendeline (38), op 19 Februarie, slegs ure voor hy 'n huurmoordenaar na hul huis gebring het om haar dood te maak. 'n Gewelddadige aanval wat hy koelbloedig aanskou het terwyl hy geluister het hoe sy vir haar lewe pleit.
Die ma van drie jong dogters, wat 23 keer met 'n mes gesteek is, het vandeesweek in 'n eksklusiewe onderhoud aan die George Herald gesê die afgelope paar weke was vir haar baie emosioneel. Sy kon ook nog nie werklik die verbrokkeling van haar 12 jaar lange huwelik of die pyn en hartseer van die grusame aanval op haar verwerk nie, want "as 'n ma moet ek sterk wees vir my kinders".
"Ek kan nie stilstaan of op 'n hopie gaan sit nie, ek moet aangaan ter wille van hulle," sê sy.
Dieselfde drang om te oorleef het ingeskop toe sy op 19 Februarie by haar huis in Watsonstraat, George-Suid, aangeval is en bebloed op die koue sementblad onder hul afdak gelê het. Sy vertel sy het haar dood gehou tot haar man en haar aanvaller, Jimmy Sampson (48), weg is, voordat sy haar laaste bietjie krag bymekaar geskraap het om op te staan.
"My kinders het haar die krag gegee om op te staan."
Met voos gesteekte hande het sy 'n groot staalskuifhek oopgestoot om hulp te soek.
Saam gebid
Frendeline sê die ergste wat sy verwag het toe sy vir Karl twee dae voor die aanval sê dat sy van hom wil skei, was dat hy haar sou slaan. "Nooit in my wildste drome het ek gedink hy sou so iets doen nie."
Hy het haar nog immers daardie oggend gevra om saam met hom te bid.
"Hy het gebid dat die Here aan sy hart moet werk sodat hy 'n beter man vir my kan wees en 'n beter pa vir die kinders," vertel sy.
Sy werklike planne is eers ure later openbaar toe hy gestaan en kyk het hoe Sampson, wat hy R3 500 aangebied het vir die moord, haar aanval. Die egpaar se oudste dogter (11) was binne die huis tydens die voorval.
Vergewe maar kwaad
"Ek vergewe hom, want anders gaan ek wrokkig bly en sal ek nie kan aanbeweeg nie. Maar ek is nog baie kwaad oor hoe sy bose plan ons en sy eie kinders affekteer. Hulle is gebroke, want hulle verlang na hom, maar is bang vir hom."
Sy en Karl se twee kinders by sy vorige vrou, wat 'n paar maande gelede oorlede is, het mekaar ook weer gevind. Al die kinders, is baie geheg aanmekaar en kuier haar stiefkinders, wat in Parkdene woon, sedert die begin van die verhoor gereeld by haar. Sy sê ook dat sy in al die jare wat hulle saam was, vir hom 'n goeie vrou was.
"Soms hardegat soos ons vroumense maar kan wees, maar ek het mooi omgesien na hom en die kinders." Tydens die verhoor is getuig dat Karl aan Sampson gesê het dat Frendeline 'n buite-egtelike verhouding gehad het, en dat dit die rede was waarom hy haar wou laat dood maak. Maar Frendeline sê dis nie waar nie. "Soos ek na die aanval gehoor het, was hy die een wat buite-egtelike verhoudings gehad het."
Karl se regskoste
Om so gou as moontlik van Karl te skei is haar volgende prioriteit, want behalwe dat hy haar byna haar lewe gekos het, kan hy haar dalk finansieel ruïneer.
Die Stellenbergs is nog binne gemeenskap van goedere getroud, en hulle is saam verantwoordelik vir enige skuld - ook Karl se regskoste.
Frendeline sê sy en haar kinders is onlangs deur 'n groot vernedering toe die balju items by die huis kom opskryf het.
Karl het vermoedelik geld by 'n vriend vir regskoste geleen en hy kon dit nog nie terugbetaal nie. Twee van hul huise in Parkdene is intussen ook verkoop om hul skuld te delg.
Dit vorm 'n skrille kontras met die prentjie van 12 jaar gelede toe die paartjie R3 miljoen in die nasionale Lotto gewen het, slegs drie maande nadat hulle op 6 Junie 2002 getroud is.
Permanente skade
Intussen gaan Frendeline, wat nie meer die volle gebruik van haar hande het nie, voort by haar begrafnisonderneming om haar gesin en stiefkinders, finansieel te ondersteun.
'n Plaaslike ortopediese chirurg het getuig dat Frendeline uit die aard van haar beserings nie weer die volle gebruik van haar hande sal hê nie.
Fyner handewerk soos aartappels skil en haar kinders se hare versorg is iets wat sy na die aanval nie meer kan doen nie.
Sy glo egter dat geloof en gebed vir haar en die kinders deur al die beproewings sal dra en sy bly steeds hoop dat haar hande eendag volkome sal herstel.
Frendeline wil graag die Mediclinic George se personeel, Intercare, haar familie, vriende en kerkmense bedank vir al hul onder-
steuning, hulp en gebede die afgelope maand, want daarsonder sal sy dit nie maak nie.
"Aan lt.kol. Richard Tonkin van die George-polisie en sy ondersoekspan en mnr. Gerrit van Rooyen wat eerste op my afgekom het, en sy ma ook 'n groot dankie," het sy gesê.
Klik hier vir 'n verwante artikel.

Frendeline sê sy was 'n goeie vrou vir haar man, Karl Stellenberg. Hulle was 12 jaar getroud.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'