GEORGE NUUS - Dit was net 'n bestiering dat Nora Meintjies nie in die brand omgekom het nie. Meintjies het drie dae voor Kersfees alles verloor toe haar huis, en al die goedjies wat sy en haar oorlede man oor die jare bymekaargemaak het, in 'n brand verwoes is.
Meintjies het op 22 Desember gaan werk en die middag na haar tuiskoms, 'n bietjie gaan lê. "Ek is deur my vriendin wakker geklop. Toe ek my oë oopmaak het die vlamme in die dak gehang en al die elektriese punte het begin skiet."
Meintjies sê die vlamme was naby haar gesig, en sy was bitter gelukkig om met net swart kolle op haar neus, oor en hand weg te kom.
Die munisipaliteit het intussen vir Meintjies 'n skuiling langs haar verbrande huis opgerig.
Joan Tarentaal, by wie Meintjies werkies doen, sê hulle was nie tuis toe die ramp Meintjies getref het nie. "Alles loop skeef vir die arme vrou vandat haar man oorlede is." Tarentaal sê blykbaar was Meintjies by die munisipaliteit oor die vakansie, maar alles was toe.
"Sy het toe maar gewag tot ons terug was om weer te gaan. Ons was saam met haar om die brandverslag te kry," vertel Tarentaal. Sy sê eers wou die munisipaliteit haar nie help nie omdat hulle 'n polisieverslag nodig het, maar die polisie was nie op die toneel nie.
PBI-raadslid Virgill Gericke, sê hy het probeer help en is bly Meintjies het nou 'n dak oor haar kop.
Hy voel egter dit moes vroeër en gouer gewees het.
"Ek het my juis die week in die raadsvergadering hieroor uitgespreek. Ek voel daar moet gewerk word aan die reaksietyd wanneer so 'n ramp mense tref. Ek het ook gevra dat daar meer personeel beskikbaar moet wees gedurende vakansietye - veral oor Desember."
Die badkamer is in puin gelê.
Chantel Edwards-Klose, die kommunikasiebestuurder van George-munisipaliteit, sê hulle help mense in noodgevalle waar strukture gebrand het en mense alles verloor het.
"Dit word ook gedoen in gevalle van natuurlike rampe en stormskade. Die munisipaliteit help gewoonlik as ons al die nodige dokumentasie kry soos identiteitsdokumente, die brandverslag en wanneer die area skoongemaak is."
Edward-Klose sê dit gebeur gewoonlik 'n dag na die brand of skade, indien al die dokumentasie daar is.
"Maar ons help glad nie wanneer 'n brand gestig is nie."
Mense wat vir Meintjies wil help met huisraad, kos of enigiets anders, kan vir Joan Tarentaal kontak by 076 511 2228.
'n Prentjie van verslaentheid... Nora Meintjies kon ontsnap met net brandplekke op haar neus, oor en hand.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'