GEORGE NUUS - 'n Familie van George is op soek na 'n man in 'n wit bakkie, ná hy hulle verlede Donderdag, 16 Februarie, bygestaan het toe hul seun in die middedorp omgery is.
Johannie van Loggerenberg en haar seun, Freddie (9) was besig om huis toe te loop toe 'n wit VW Polo vir Freddie in Meadestraat omgery het. Freddie is 'n leerder by Carpe Diem en die skoolbus het hom in die middedorp afgelaai.
"Ek het hom gekry waar die bus hom afgelaai het. Ons was besig om Meadestraat te kruis toe ek net 'n slag agter my hoor. Toe ek omdraai lê Freddie in die pad. Ek het gekyk voor ons die pad oorgesteek het, maar nie die kar gesien nie. Hy was net skielik op ons," vertel sy.
Volgens van Loggerenberg het daar gelukkig 'n man in 'n wit bakkie by hulle gestop. Hy het als gesien en dadelik daarop aangedring om Freddie en sy ma hospitaal toe te neem.
Freddie het verskeie beserings opgedoen, maar sterk tans by die huis aan. Sy linkerbeen is op twee plekke gebreek, hy het sy heup beseer en 'n slag teen sy kop opgedoen.
"Toe als verby is, besef ek ek het nie eers gevra wie hy is nie. Ons wil maar net dankie sê vir die man in die wit bakkie. Hy was regtig 'n engel uit die hemel," het van Loggerenberg gesê.
Volgens van Loggerenberg het die bestuurder van die VW Polo gesê dat hy hulle nie gaan bystaan met mediese onkoste nie aangesien daar geen formele saak aangemeld is nie.
Vrou deur taxi omgery
'n Vrou het ernstige beserings opgedoen ná sy op dieselfde dag in Nelson Mandela-boulevard in die Borcherds-omgewing, deur 'n taxi omgery is.
Volgens 'n provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, was Metro-ambulansdienste reeds op die toneel met die polisie se aankoms. Die slagoffer is deur 'n Toyota Quantum getref en het kopbeserings opgedoen waarna sy gehospitaliseer is.
Pogings deur George Herald om die slagoffer se ma te kontak, was onsuksesvol.
Volgens inligting is die slagoffer na 'n hospitaal in die Kaap oorgeplaas. Dit kon nie bevestig word nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'