GEORGE NUUS - Presies 'n maand ná hy aan die liefde van sy lewe verloof geraak het, is Stephan van Vuuren (23) van George skielik uit sy geliefdes se lewens geruk.
Stephan, 'n elektrisiën by 'n plaaslike maatskappy, het Dinsdag 14 Desember by sy werk doodgeskok. Hy en sy aanstaande, Amoré Conradie, het beplan om in 2023 te trou.
"Stephan was nie net my vriend nie, hy was my hoërskool liefde, my hede, my toekoms en my hele bestaan. Hy was 'n mens met 'n groot omgeehart, niks of niemand was vir hom te veel moeite nie. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. My grootste droom was om mev. Van Vuuren te wees," sê Amoré.
'n Gebroke Amoré beskryf die dag toe Stephan haar om haar hand gevra het as die gelukkigste dag van haar lewe.
"Geen woorde kan die liefde en verhouding wat ek en Stephan vir mekaar gehad het beskryf nie, dit voel soos 'n droom, so onwerklik. My Beertjie is nou 'n engel. Maar die Here het hom meer nodig gehad as ons, as ek. Ek kan my lewe nie sonder hom indink nie, maar hy sou nie wou hê sy lyfie moes so hartseer wees nie. Ek is verskriklik lief vir jou, Beertjie. Tot ons mekaar weer sien en ek veilig in jou arms kan wees soos dit hoort."
Stephan se ma, Petro, se hart is aan flarde, maar sy koester die mooi herinneringe.
"In die tyd wat hy vir ons gespaar was, het hy baie lewens aangeraak. Hy was 'n groot man met 'n groot persoonlikheid en 'n klein hart. Hierdie moederhart gaan seker vir baie lank nog huil, maar ons klou vas aan die mooi tye wat ons saam met hom kon deel. Hy was 'n borrelende kind wat alles met oorgawe aangepak het.
"Hy en Amoré se liefde vir mekaar is ongekend. Dis erg. Dis bitter hartseer en ons almal is nog in skok," het sy Woensdagmiddag aan George Herald gesê.
Stephan en sy verloofde, Amoré Conradie.
Sy werkgewer van sowat vier jaar, André Gerber, beskryf Stephan as 'n liefdevolle en hardwerkende mens. "Hy het nooit teruggestaan nie en hy was altyd bereid om te help. Hy was 'n spesiale mens wat baie se harte aangeraak het. Hy was soos 'n kleinboetie vir my," het Gerber gesê.
Begrafnisreëlings kon teen druktyd nie bevestig word nie en die presiese oorsaak van Stephan se ontydige dood word nog ondersoek.
Stephan laat sy ouers, Petro en Fanie, sy broers, Jandré en Marcel, asook vir Amoré agter.
Stephan (regs agter) saam met sy broers, Jandré (links), Marcel en hul ouers, Fanie en Petro.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'