EDEN DISTRIK NUUS - Opinies oor die voorgestelde naamsverandering van Eden-distriksmunisipaliteit na die Garden Route District Municipality wissel dramaties, met diegene wat vír die verandering is en etlike wat nie die sin daarin sien nie. Die spertyd vir klagtes en gedagtes oor die voorgestelde wysiging is 31 Oktober.
ANC-hoofsweep van die Eden-raad, Piet van der Hoven, het gesê hy lees die kommentaar van die mense, maar dink nie almal het die volle prentjie nie.
"Vanuit 'n bemarkingsoogpunt maak dit sin om die naam te verander," het hy gesê.
"Almal stem saam dat Eden kort en bondig is, maar die probleem is niemand wat oorsee is weet waarvan jy praat nie. Die ouens in Europa weet nie eers waar Eden is nie. Hulle praat van die Garden Route en Klein-Karoo, en dit is in hierdie konteks wat die burgemeester die naam wil verander."
Dr. Andy Lamont, Eden se eerste burgemeester en die voorsitter van die George Erfenistrust, het die Tuinroete/Klein-Karoo-distriksmunisipaliteit destyds (in 2000) herbenoem na Eden. "Ek het die streek gedoop," het hy aan die George Herald gesê. "Die Tuinroete/ Klein-Karoo-distriksmunisipaliteit was 'n tongknoper van 'n naam - Eden was meer gepas." Volgens Lamont het die naam "Eden" verwys na die hele streek se plantegroei en klimaat.
"Dit was 'n goeie naam om beide die Tuinroete en die Klein-Karoo te akkommodeer." Hy het bevestig dat die toerisme-verenigings se name dieselfde gebly het. "Dit was bloot 'n munisipale naamsverandering. Tuinroete- en Klein-Karoo-toerisme is steeds dieselfde. Toerisme is nie 'n direkte funksie van die Eden-distriksmunisipaliteit nie, hulle moet dit net bevorder. Die bemarking word gedoen deur die toerisme-verenigings."
Lamont het gesê die geld wat hulle vir 'n naamsverandering wil gebruik moet eerder vir die toerisme-verenigings gegee word, vir opleiding en bemarking.
"Dit is 'n groot onkoste om 'n naam te verander. Met die naam 'Garden Route', die gebied suid van die Outeniquaberge, sluit hulle omtrent 50% van hulle distrik uit." Voormalige munisipale bestuurder van Eden, Godfrey Louw, het gesê dat hy nie 'n probleem met die naamsverandering het nie, maar hy sal graag wil weet wat die koste implikasie van die besluit sal wees.
Die publieke deelname proses sluit 31 Oktober. Lewer kommentaar oor die voorgestelde naamsverandering aanlyn, by http://namechange.edendm.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'