
Presies een jaar na haar man se dood, skryf Ina von Brandis:
My man was ‘n perfeksionis, lojaal en betroubaar. In sy werk het hy altyd sy beste gegee. Die wat oor hom aangestel is, het hy respekteer en die wat onder hom gewerk het, het hy menswaardig behandel. Hy het nooit iets teen die reëls of onwettig gedoen nie.
By die huis
Hy was in die eerste plek my man, ek was vir hom die belangrikste persoon in sy lewe, hy was altyd trots op my en het baie meer van my vermoë gedink as ekself. Hy het my altyd ondersteun en nooit my groei gedemp met sy eie behoeftes of ambisies nie. Ek kon langs hom loop. Ons was byna 40 jaar saam, geliefdes, vriende, ouers en grootouers.
Vir sy kinders, Angelique, Eugene en Jacqulique wou hy net die beste hê. Hy het hulle altyd aangemoedig en ondersteun om hulself te verbeter. Hy was ‘n streng, maar liefdevolle pa.
In die weermag
As militêre polisiebevelvoerder het hy verskeie toekennings ontvang en het uitgeblink in die eenheid. Eugene was altyd voor sy tyd bevorder. In elke kursus het hy eerste gestaan, die gevolg van hardwerkendheid en verseker intelligensie ook. Daarna is hy verplaas na die rekenaarstelsel eenheid.
Vroeëre politieke loopbaan
Eugene was ‘n Christen en as ouderling van NG Kerk Tuinedal het ek hom versoek om saam met een van sy wykslede na ‘n NP-vergadering te gaan. Daar is hy verkies as tak-tesourier, sonder dat hy enigsins beplan het om in die politiek te gaan. Onder sy rentmeesterskap het die finansies vlot verloop. Hy was ook een van die stigterslede van die DA. Hier het almal hom geken vir ‘n man met ‘n toe beursie, hy sou eerder sy eie geld op DA verpligtinge spandeer as om die DA-beursie te gebruik wat in sy sorg as tesourier toevertrou is.
George-stadsraad
In 2001 is Eugene verkies tot die George-stadsraad, waar hy as exco-lid en later as speaker gedien het. Van die projekte waarvoor hy hom veral beywer het was die munisipale swembad in Conville, die Plattner Boulevard deurpad van Heatherpark na Yorkstraat, die rolstoel vriendelike sypaadjies in George en Emmaüs tuiste vir gestremdes.
In die parlement
Gedurende sy tweede termyn in die raad is hy verkies tot die Wes-Kaapse parlement, waar hy die voorsitter van verskeie staande komitees was onder andere, vervoer, toerisme, finansies en die provinsiale begroting. In sy tyd in die Kaap het hy ook die meeste wette deur die parlement gesien, (hersiening en nuwe wette). Hy het ook in die ‘Governance and Leadership’-kursus by die Universiteit van Witwatersrand die beste in die Wes-Kaap gevaar.
Gedurende sy tweede termyn in die parlement was hy by die National Council of Provinces (NCOP). Met net soveel ywer het hy daardie taak aangepak, hoewel hy nie eers ‘n jaar daar was voor hy siek geword het nie.
Hy was altyd gedissiplineerd in sy optrede. Hy was ‘n groot man, fisies en geestelik.

