GEORGE NUUS - Die Woensdag-etensuurkonserte in die NG Moederkerk, bestaande uit 'n reeks konserte in die lente en 'n reeks in die herfstyd, is al 'n instelling in George.
Die herfsreeks van 2022 het gister afgeskop met Hoërskool Outeniqua se instrumentale ensemble onder leiding van fluitspeler Rian Smit.
Die tweede konsert gaan iets besonders bied in die vorm van 'n hele program van harpmusiek - 'n instrument wat baie selde hier in ons geweste gehoor word.
Olga Bosman-Schoeman se program bestaan uit verwerkings vir die harp van JS Bach, nl. Sarabande en Double in B mol min.; Allemande in D min., 3. Fuga in D min.; Siciliano in G min. en Prelude in E mol maj.
Olga het op vyfjarige ouderdom begin harp speel. Sy studeer aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar en Wits Universiteit, waar sy B.Mus. met hoofvakke harp en klavier behaal. Sy het verskeie solokonserte en konserttoere in SA en die buiteland onderneem en opgetree met die SAUK-orkes en die Pro Musica-, PE en Natal-orkeste.
Die konsert begin om 13:10 op Woensdag 16 Maart. Toegang is gratis, donasies is welkom.
Gesondheidsprotokol wat nog vereis word, moet nagekom word.