GEORGE NUUS - Suid-Afrikaners moet hulle staal vir 'n moeilike paar jaar, maar alles is nie net negatief nie. Daar is ook geleenthede.
Dit was Dinsdag die boodskap van David Gracey, 'n senior bestuurslid van Investec en iemand met meer as 30 jaar ondervinding van handeldryf in finansiële markte.
Gracey was die hoofspreker tydens 'n geleentheid by Fancourt wat onder die vaandel van die George-sakekamer in samewerking met Investec aangebied is. Die geleentheid is bygewoon deur onder meer George se burgemeester, Melvin Naik, Gerrit Pretorius, speaker van die George-stadsraad en 'n aantal bekende sakeleiers.
Gracey het gesê sy opmerkings is teen die agtergrond dat mense moet bewus wees van die tekens, sodat hulle kan beplan vir die toekoms. Hy het eers 'n oorsig gegee van wat in die wêreld aan die gang is. Dit sluit in die opkoms van nasionalisme en lande wat met groot skuld sit.
In Suid-Afrika is een van die groot uitdagings korrupsie en dit raak elke vlak van die samelewing. Daar word beraam dat dit selfs sowat R1 triljoen land kan beloop.
Voorts is daar onsekerheid oor regeringsbeleid. Hy het as voorbeeld verwys na die feit dat daar nog nie werklik duidelikheid is oor grondonteiening sonder vergoeding nie. By dit is daar die debat oor die posisie van die Reserwebank.
Beleggers begin wonder of Suid-Afrika 'n sosialistiese land of 'n kapitalistiese land is, of tussen die twee.
Die grootste kopseer en probleem in Suid-Afrika is Eskom. As al die personeel van die instansie getel word, is die gemiddelde salaris per werknemer R770 000. Die vakbonde het Eskom in 'n wurggreep em probleme sal nie in 'n jaar of twee opgelos word nie. 'n Nuwe besigheidsmodel is nodig.
Gracey glo Suid-Afrika is ver daarvan dat die regering 'n reddingsboei van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sal vra. Die ANC sal dit nie doen nie, want as dit gebeur, het hy nie meer die mag nie. Die voorgestelde Nasionale Gesondheidversekering (NGV) sal ook nie realiseer nie. Dit is net deel van 'n wenslys.
Melvin Naik, George-burgemeester (middel) Dinsdag by die geleentheid van die George-sakekamer wat by Fancourt gehou is. Links staan Steven Buhr van Investec en regs Ingrid Cronjé, hoof uitvoerende beampte van die sakekamer.
Gracey het gewaarsku dat Suid-Afrikaners hulle kan klaar maak om meer belasting op te dok - direk en indirek. Wat hom betref moet landsburgers hul gereed maak vir minstens drie tot vier moeilike jare.
Alles is nie net negatief nie. Oor die volgende 10 jaar kan daar geleenthede in uitvoere en toerisme wees. Maar dan moet dinge soos vervoerstelsels in plek wees. Voorts moet toeriste se veiligheid gewaarborg kan word.
Die land het leierskap nodig en die interne faksie-gevegte moet ophou. Dit is ook nie net die regering en munisipaliteite wat 'n verantwoordelikheid het om seker te maak dinge werk nie. Gemeenskappe moet ook help.
Hy het gevra dat sakelui in die land bly. Die land het beleggings nodig. Op die vraag of mense die land moet verlaat het hy geantwoord dat dit 'n moeilike vraag is.
Hy glo Suid-Afrika is 'n land van gelyke geleenthede, maar as hy jong kinders gehad het sou hy bekommerd gewees het oor hul toekoms.
Hy het egter benadruk Suid-Afrika se probleme is nie uniek nie. As die land sy huis in orde kan kry, kan probleme relatief vinnig opgelos word.
David Gracey van Investec Dinsdag aan die woord by Fancourt.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'