GEORGE NUUS - Wanneer deelnemers Saterdagoggend vroeg aantree vir die jaarlikse Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) sal die internasionaal bekende atleet, Ernst van Dyk, nie daar wees nie. Sy naam het al sinoniem met die wedren geword en het verskeie kere deelgeneem.
Die wedren is die eerste keer in 2002 aangebied en net 27 atlete het deelgeneem. Saterdag is die 17de keer dat die wedren plaasvind.
Vanjaar se wedren het byna nie plaasgevind nie omdat daar onsekerheid oor borgskappe was.
Alewijn Dippenaar, voorsitter van die reëlingskomitee, het aan die George Herald bevestig dat Van Dyk nie gaan deelneem nie.
Volgens Dippenaar moet Van Dyk 'n vergadering van die SA Para-Olimpiese komitee in Johannesburg bywoon. "Hy het al ingeskryf en alles was reg vir sy deelname. Ongelukkig het hy nie 'n ander keuse gehad as om te onttrek nie." Daar is ook ander bekende atlete wat moes onttrek as gevolg van beserings en ander verpligtinge.
Hulle het egter reeds aangedui dat hulle wil deelneem aan aanstaande jaar se wedren in Februarie.
Dippenaar het gesê al die reëlings vir vanjaar se wedren is op koers. Sowat 500 deelnemers het ingeskryf. Dit is wel kleiner as verlede jaar, maar het Dippenaar bygevoeg: "Dit beteken daar is 500 mense in rolstoele wat gelukkig is en deelneem."
Mense is welkom om Saterdag atlete aan te moedig. Die eerste deelnemers spring reeds om 7:00 weg by Halfway Toyota in Knysnaweg. Die prysuitdeling vind om 12:30 plaas.
Dippenaar het benadruk dat sonder die hulp van die 65 lede van die reëlingskomitee en die sowat 300 beamptes sal die wedren nie kan plaasvind nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'