GEORGE NUUS - Die voorgestelde residensiële ontwikkeling op erf 157 oorkant die Congregational Church in Missionweg, Pacaltsdorp, se ontwerp sal plaaslike argitektoniese elemente moet weerspieël waar prakties moontlik en slegs enkelverdiepinggeboue mag opgerig word.
Dit is volgens die aanbevelings van die erfenisspesialis, Stefan de Kock, gemoeid met die erfenisimpakstudie wat onderneem is. Dié studie is een van die voorwaardes vir die ontwikkelingsaansoek wat tans deur George-munisipaliteit oorweeg word.
Plaaslike inwoners en sekere Khoisan-stamme het onlangs 'n protesaksie by die grond gehou om hul teenkanting teen ontwikkeling van die grond te demonstreer. Hulle glo daar lê moontlik geskiedkundig waardevolle grafte van hul voorsate.
Marlize de Bruyn van Marlize de Bruyn Planning, wat die aansoek namens die ontwikkelaar hanteer, het gesê die ontwikkeling bestaan uit 24 meenthuiserwe.
Volgens die erfenisspesialis se aanbevelings in die erfenisimpakverslag, mag die mees suidelike punt van die eiendom nie ontwikkel word nie en enige grondwerke op dié gedeelte sal toestemming van Erfenis Wes-Kaap (EWK) vereis.
Enige ondergrondse uitgrawings op hierdie gedeelte moet ook argeologies gemonitor word en indien enige ongemerkte grafte of oorblyfsels oopgemaak word, moet werk op hierdie gedeelte dadelik gestaak en EWK in kennis gestel word.
Die eiendom se grenslyne mag slegs met visueel deurdringbare strukture omhein word. Die ontwikkelaar moet ook inligtingsborde aan die noorde- en suidekant van die ontwikkeling aanbring met 'n kort geskiedenisbeskrywing van die historiese belang van die grond.
Volgens EWK se rekord van besluit, kon die argeologiese impakstudie nie ondergrondse versteuring op erf 157 identifiseer wat konsekwent is met versteuring eie aan grafte nie.
Die grond was die eiendom van die kerk van 1969 tot 2004 toe dit aan 'n privaat eienaar verkoop is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'