Gallery
GEORGE NUUS - Vir 'n aantal gesinne in Merriman- en Hoopstraat was Maandag se vloed 'n traumatiese ervaring wat byna hul lewens gekos het.
Nicola-Leigh Lekay, haar man, Johan Katzen, en hul driejarige seuntjie Johagen, tesame met Lekay se suster en haar baba, moes deur 'n venster in hul woonstel in Merrimanstraat klim en na die dak vir veiligheid vlug.
Allicia en Pieter Niemand, en hul matriekdogter Talicia du Toit, moes oor Hoopstraat na veiligheid swem. Attie Appels en sy gesin is vanaf die boonste verdieping van hul huis in Hoopstraat, oor 'n rivier van water begelei met die hulp van brandbestryders en nooddienspersoneel.
"As ek nie Maandag 'n bietjie vroeër van my skof af gekom het nie, was my vrou en kinders verseker dood," het Appels gesê. "Hulle was paniekerig. My tienjarige seun is nou nog getraumatiseer. As hy reën hoor raak hy verskriklik bang."
So het Allicia en Pieter Niemand se huisie in Hopestraat Maandagoggend gelyk tydens die vloed.
Vir Johan Katzen en sy gesin het Maandagoggend rustig begin terwyl hulle luister na die reën wat val. "Een oomblik was alles okay, en die volgende oomblik was dit nie meer okay nie," het sy vrou, Nicola-Leigh Lekay, vertel.
"Die water het heuphoogte buite die skuifdeur opgedam, ons was vas in ons woonstel."
Allicia en Pieter Niemand van Hopestraat moes saam met hul dogter, Talicia du Toit (18), na veiligheid swem.
Die watervlak het Maandagoggend binne minute so hoog gestyg dat hulle meubels in die kamers rondgedryf het. Met die hulp van hul familie, wat in die hoofhuis aan die woonstel bly, kon hulle 'n staalhek as 'n leer gebruik en op die dak van die huis klim. Reddingswerkers en brandbestryders het hulle later gehelp om die rivier voor hulle eiendom veilig oor te steek.
"Ons hond, Benji, is uiteindelik op 'n drywende deur na buite begelei. Hy het baie gestres, ek was so hartseer oor ons hond." Benji word tans versorg by die dierebeskermingsvereniging. Die drie gesinne gaan al drie tuis in die vakansiehuisies by George-gevangenis.
Lekay en du Toit bedank die gemeenskap vir hulle omgee en hulp.
"Mense wat ek van geen kant af ken nie het hier aangekom en ons kom help," het Du Toit gesê.
Nicola-Leigh Lekay verwerk die gebeure wat vanaf Maandag net voor 07:00 haar hele lewe verander het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'