Dit het geblyk tydens die sentrum se jaarvergadering Saterdag in George.
Die sentrum verskaf verblyf aan 48 werkers en bied werk aan nog 98 dagwerkers wat daagliks vervoer word tussen die huis en werkswinkel. Dit kos vyf heen-en-weer ritte soggens en saans.
Arthur Lambrechts het in sy voorsittersverslag gesê sommige van die voertuie is taamlik oud en vereis instandhouding. Die sentrum wag egter op die uitslag van 'n Lotto-aansoek vir die aankoop van voertuie.
Daar is altyd 'n vraag na addisionele fasiliteite. Tans is daar 'n waglys vir verblyf by die sentrum asook vir dagwerkers wat nie geakkommodeer kan word nie omdat vervoer ontbreek.
Lambrechts het die sentrumbe-stuurder, Elsabé Badenhorst, en haar personeel geloof vir hul streng beheer oor die finansies.
'n Lang lys borge en ondersteuners is by name genoem sonder wie die sentrum nie kan bestaan nie. Lambrechts het gesê daar word geldelike en voedselbydraes gemaak en daar is mense wat gratis herstel- en onderhoudswerk vir die sentrum doen. Verskeie mense bied ook bystand aan die werkers.
Danksy geldelike bystand deur die Departement Maatskaplike Dienste en Ontwikkeling, kon 'n aantal kapitaalprojekte aangepak word. Dit sluit in die installasie van hittepompe om die geweldige kragrekening van die sentrum af te dwing, installasie van rooksensors in 48 kamers en aankoop van nuwe matrasse vir al die kamers. Die hele gebou word ook oorgeverf.
Volgens Cobus Goosen van PKF, wat die finansiële verslag gelewer het, was hul inkomstebronne vir die jaar soos volg: Welsynpensioentoelaes R756 000, koshuisgelde R426 000, fondsinsamelingsprojekte R440 000, ouerdonasies R130 000 en gemeenskapsdonasies R190 000. 'n Eenmalige toekenning van die Lotto/Welsyn van R558 000 is ook ontvang.
Die sentrum is 'n nie-winsgewende BEE-organisasie en 'n artikel 18(a)-maatskappy. Donasies kan belastingvoordele vir skenkers inhou.

Die Emmaüs-bestuurskomitee is herkies by die AJV. Van links is (agter) Retha Botha, Miriam Vena, Dolores Wewers (gasspreker), Ruth Riddles, Riëtte van Rensburg, Esme Orr, Nadia Abrahamse, (voor) Elsabe Badenhorst (sentrumbestuurder), Arthur Lambrechts (voorsitter), Annemarie Filmalter (ondervoorsitter), Gerrit Brandt (sekretaris/tesourier) en Kobus Goosen van PKF.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS