Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Pogings om te keer dat die George-kunsteteater sy deure sluit, is in volle gang. Sedert die skoknuus dat die gewilde teater dalk sy deure sal moet sluit verlede week bekend geword het, is reaksie en hulp uit verskeie oorde aangebied.
'n Berig op George Herald se Facebook-blad het ook wye reaksie uitgelok.
Die moontlike sluiting het bekend geword tydens 'n geleentheid waar die Rand 'n tand-veldtog bekendgestel is. Die doel is om geld in te samel sodat die teater sy deure kan oophou.
Daar is laas in Maart openbare vertonings by die teater gehou. Die teater was gesluit as gevolg van die Covid-19-inperkingsmaatreëls.
Bernie Schaap, bestuurder van die teater, het Maandag gesê reaksie is ontvang van maatskappye en individue. Daar was ook 'n ontmoeting met die George-stadsraad. Die toekoms van die teater hang in dié stadium aan 'n draadjie.
Die geldinsameling gaan intussen voort en so ook planne vir produksies later vanjaar.
Volgens Schaap is fondse nodig vir die bedryf van die teater en instandhoudingswerk soos die dak.
Links agter: Rocky Sonnekus van die Friends of George-organisasie en Bernie Schaap, bestuurder van die George-kunsteteater. Voor is "kerkmuis" en "teatermuis". Hulle was by die bekend-stelling van die Rand 'n tand-veldtog.
Sy het 'n beroep op mense gedoen om betrokke raak. "Dit is 'n gemeenskapsteater. Dis een van min die teaters in die land wat so is."
Op 20 September vind die algemene jaarvergadering plaas. By die geleentheid sal die toekoms van die teater bespreek word en 'n nuwe bestuur gekies word. Almal wat opbetaalde lede is sal kan stem. Mense kan ook as lede aansluit.
Oor die situasie van die vyf personeellede het sy gesê dit is nog onseker. Dit raak egter nie net hulle nie, maar ook die kunstenaars. As dit sluit sal daar een minder plek wees waar kunstenaars kan optree.
Rocky Sonnekus (links) van die Friends of George-organisasie en Bernie Schaap, bestuurder van die George-kunsteteater, voor die teater.
Rocky Sonnekus van die Friends of George-organisasie wat die Rand 'n tand-veldtog dryf, het gesê hy is vol hoop dat die knoop deurgehaak sal word. Binne twee dae is reeds R3 000 ingesamel. Die mikpunt is om minstens R100 000 in te samel.
Kyk 'n video hieronder
Volgens hom raak die teater verskeie mense, onder andere bejaardes. Vir hulle is dit 'n plek wat hulle kan besoek as 'n sosiale geleentheid. Vir meer besonderhede oor die nuwe webtuiste, besoek www.1rand.2gain.co.za
Bea Esterhuysen, wat van 2008 tot 2013 bestuurder van die teater was, het gesê haar hart is stukkend. Sy is deesdae deel van George Herald se aanlynspan. "Die teater lê my baie naby aan die hart. Die teater is 'n bate van George en mense moet betrokke raak. George se mense moet opstaan en hul talente en kundigheid beskikbaar stel."
Bernie Schaap, (links) bestuurder van die George-kunsteteater en Rocky Sonnekus van die Friends of George-organisasie. Foto's: Eugene Gunning
Verwante artikel: George-Kunsteteater sluit dalk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'