Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die George-kunsteteater gaan dalk sy deure sluit. Die skoknuus het vanoggend (27 Augustus) bekend geword tydens 'n geleentheid waar die Rand 'n tand-veldtog bekendgestel is.
Die doel is om geld in te samel sodat die teater sy deure kan oophou. Daar is laas in Maart openbare vertonings by die teater gehou. Die teater was gesluit as gevolg van die Covid-19-inperkingsmaatreëls.
Die huidige gebou in Yorkstraat word al meer as 51 jaar benut en is ’n baie gewilde bymekaarkomplek vir mense wat in die kunste belangstel en dit geniet. Dit word as 'n nie-regerings organisasie (NGO) bedryf.
Die elektrisiteit na die gebou is reeds afgesny en tydens vanoggend se geleentheid is 'n kragopwekker ingespan.
Bernie Schaap, bestuurder van die teater, het gesê geld is nodig on die teater oop te hou. Die teater sukkel en die hulp van die gemeenskap is nodig, daarom die Rand 'n tand-veldtog waar mense bydraes kan maak. Selfs al is dit net R1. Die gedagte is dat as baie mense bietjie geld gee, gaan daar baie geld wees. Schaap beskryf dit as 'n juweel en daar kan nie toegelaat word dat dit sluit nie.
Rocky Sonnekus van die Friends of George-organisasie wat die veldtog dryf het gesê die mikpunt is om minstens R100 000 in te samel. Hy is vol vertroue dat die teater wel sal bly voortbestaan. "Dit is nie die Titanic nie. Hy gaan nie sink nie."
‘n Beroep word op vrywilligers gedoen om te help.
Meer besonderhede oor 'n nuwe webtuiste sal vroeg aanstaande week bekendgestel word. Die webtuiste sal wees: www.1rand.2gain.co.za
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'