GEORGE NUUS - Die oorweldigende nood van minderbevoorregtes in Pacaltsdorp het sakemanne genoop om iets te doen. Dit het begin by Albé de Swardt van Spar, wat agtergekom het daar word in sy vullissakke gekrap vir oorskietkos.
Hy het toe uitgereik na sy familie en vriende en ander sakemanne om 'n bydra te maak. Hy het 'n stap verder gegaan en op sosiale media gevra waar daar nood is, en nie besef hoe vinnig die boodskap sal versprei nie.
"Ek het net gedink hoe kan ek help. Ek probeer maar altyd help waar ek kan en nie gedink die boodskap op Facebook sal so gou versprei nie."
De Swardt is toe deur drie plaaslike kleinsake-eienaars genader wat voel as hulle elkeen 'n bydra maak, maak nie saak hoe groot of klein nie, dit meer mense kan help. Hulle het op hul beurt weer ander sakemanne, veral in Pacaltsdorp, uitgedaag om ook nader te staan.
Basil Myners van BM Skills Development sê as elkeen help, kan baie meer gedoen word. De Swardt vertel hy het reeds Maandagaand 'n lys gemaak van al die mense wat op sosiale media kommentaar gelewer het. "Wat uitgestaan het is dat baie mense vir hul bure gevra het. Baie min het nog vir hulself gevra."
Volgens hom sal hy graag sowat 250 families teen die einde van die week wil help.
Hoe dit werk, sê hy, is dat leiers uit die verskeie gemeenskappe of plakkerskampe hom kontak met 'n lys van die mense wat regtig die kospakkie broodnodig het. Hy het Dinsdag begin met 'n lys van families in Schaapkopvallei en is reeds deur leiers in ander plakkerskampe in en rondom Pacaltsdorp gekontak.
Kontak De Swardt by albedeswardt@retail.spar.co.za as jy iemand wil help met 'n kospakkie of 'n geskenkbewys.
Basil Myners van BM Skills Development saam met Joan Meyers die vloerbestuurder by Pacaltsdorp Spar en Jethro Solomons van JS Architects. Hulle het saam met Victoria Driving School, het 'n donasie oorhandig om minderbevoorregte families van kos te voorsien.
Kospakkies gereed vir families in Pacaltsdorp.
Business owners from Pacaltsdorp are joining hands to help the really needy people in local informal settlements with food parcels. The initiative originated with Albé de Swardt, owner of the local Spar, who sent out a message on Facebook to find out the extent of the need after noticing people going through the shop's rubbish bags looking for food. Those who want to contribute, can contact De Swardt at albedeswardt@retail.spar.co.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'