TUINROETE NUUS - Die ekonomie en die koronavirus is onvermydelik aan mekaar verbonde en dis absoluut noodsaaklik dat mense hulself laat inent om aktiwiteit weer te laat oplewe.
Só sê dr. Willie Cilliers, voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) se Wes-Kaap-voorsitter en 'n direkteur op die nasionale raad van Ibasa (Institute of Business Advisors Southern Africa).
Cilliers sê dit is onmoontlik vir die ekonomie om na aktiwiteitsvlakke in 2019 voor die pandemie terug te keer sonder dat mense ingeënt word. Hy het verlede week sy tweede Pfizer-inenting by Mediclinic Geneva gekry.
"Inenting is kernbelangrik. Veral in besighede waar werkers in kontak kom met die publiek is dit noodsaaklik, anders sal jy op 'n punt kom waar jou besigheid in gevaar is."
Cilliers sê die gasvryheidsbedryf funksioneer steeds op 'n vlak van 49% onder 2019 se syfers.
"Dié wat oorleef het, is in 'n situasie waar hulle net deurdruk. Ek hoop die komende seisoen is beter anders gaan die ouens dit nie maak nie."
Hy sê streng Covid-19-protokol is ook noodsaaklik om te verseker dat die geleenthede vir groei in toerisme, ontgin kan word.
"Wanneer jy in 'n hotel tuisgaan, wil jy weet dat behoorlike sanitasiemaatreëls nagekom word. Met 'n onlangse vlug het ek baie gewonder oor hoe veilig dit is in terme van Covid-19, want die mense was lyf teen lyf gepak. In die vliegtuig was ek ietwat skepties oor hoe skoon dinge soos handvatsels is en jy wonder oor die mense wat voor jou daaraan gevat het. Hoe veilig is dit? Ons kan nie die protokolle afskeep nie. Aan die einde van die dag is my boodskap: Bly positief, maar toets negatief en kry die inenting."
Cilliers meen meer inisiatiewe soos Game se afslag op sekere dae vir klante met 'n geldige Covid-19-inentingskaart moet deur besighede van stapel gestuur word. Leiers moet ook 'n sterk positiewe boodskap oor die voordele van inenting uitstuur.
Wes-Kaap werk aan beleid
Wes-Kaapse Premier Alan Winde, het onlangs tydens 'n aanlyn-mediakonferensie op 'n vraag oor verpligte inenting gesê dit is 'n kernsaak wat tans aandag geniet en die provinsiale regering behoort hopelik binnekort 'n definitiewe beleid te formuleer.
"Ons het reeds in die opvoedingsektor 'n posisie wat deurgekom het wat ons ondersteun, naamlik dat mense wat nie ingeënt is nie, dit nie as 'n verskoning kan gebruik om nie by die werk op te daag nie. 'n Mens moet nou (in daardie sektor) ingeënt wees en jy moet by die werk wees."
Nasionale departement ondersoek verpligte inenting
Die nasionale minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, het tydens 'n mediakonferensie op Vrydag 27 Augustus gesê sy departement bespreek die instel van verpligte Covid-19-inenting onderworpe aan sekere voorwaardes. Dit is onwaarskynlik dat 'n amptelike regulasie goedgekeur sal word wat almal onder dieselfde kam skeer, maar dit kan moontlik van toepassing gemaak word op sekere werke soos die dienste- en vermaaklikheidsektore.
Regsmening
Millers Prokureurs sê op sy webwerf dat die gewysigde gekonsolideerde direktief op beroepsgesondheid en veiligheidsmaatreëls in sekere werksplekke (in Junie vanjaar gepubliseer deur die minister van arbeid) aan die werkgewer die diskresie verleen om te besluit of inenting verpligtend vir alle werknemers sal wees of nie.
Terselfdertyd erken die direktief 'n werknemer se konstitusionele reg tot liggaamlike integriteit, vryheid en privaatheid. Dit beteken dat 'n werkgewer nie 'n werknemer kan verplig om die entstof te ontvang nie en ook nie kan afdank wanneer die werknemer konstitusionele en/of mediese gronde voorhou as redes vir weiering om ingeënt te word nie.
Volgens Millers beklemtoon die direktief die belangrikheid van openbare gesondheid, die konstitusionele reg van werknemers en die doeltreffende bedryf van die werkgewer se besigheid.
Werkgewers word geadviseer om nie die direktief te misbruik in 'n poging om werknemers te dwing om die entstof te kry waar operasionele vereistes dit nie verplig nie en/of waar die werknemer die entstof op 'n redelike basis weier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'