Update
GEORGE NUUS - 'n Egpaar van Kimberley is kort voor die einde van die feesseisoen dood toe die motor waarin hulle gery het met 'n vragmotor op die R404 gebots het.
Bekende makelaar van Kimberley, Flippie Becker (53), en sy vrou, Dot (55), is Sondagaand 7 Januarie, oorlede en drie passasiers is ernstig beseer toe hulle Audi Q5-nutsvoertuig die vragmotor omstreeks 22:45 op die pad tussen Blanco en die lughawe getref het.
Dié gedeelte van die pad was tot Maandagoggend om 05:00 gesluit.
Die vragmotor het na bewering reg voor die Audi naby die 4Brothers Aartappelstoor 'n U-draai gemaak. Die insittendes van die Audi was van Kimberley na Rheebok onderweg toe hul voertuig die kant van die trok getref het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, moes verskeie nooddienspersoneel deurnag werk om die liggame uit die wrak, wat onder die vragmotor vasgesit het, te verwyder.
"Die vragmotor het na bewering 'n U-draai gemaak nadat hy die verkeerde roete geneem het. Terwyl die vragmotor besig was om te draai, het die Audi in die kant van die vragmotor vasgery. Die egpaar is op die toneel dood," het Pojie gesê.
Die drie ander passasiers, Susan le Grange (81), Nannie Müller (78) en die egpaar se sewejarige kleindogter, Eldoné Cornelius, is deur Metro-nooddienste na verskeie hospitale in George vervoer.
Volgens Eldoné se pa, Jaun, het sy dogter skedelbreuk, 'n fraktuur in haar rug asook longbeserings opgedoen. Sy is tans in die Mediclinic George. Le Grange is intussen ontslaan en Müller sterk aan in die Mediclinic Geneva.
'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
Niemand is in hegtenis geneem nie.
* Two people, a husband and wife, were killed and three passengers seriously injured in a crash with a truck on the R404 (between Blanco and the airport) at around 22:45 on Sunday 7 January. According to Southern Cape police spokesperson, Captain Malcolm Pojie, various emergency personnel worked around the clock to free the bodies from the wreckage that was stuck under the truck. The truck allegedly made a U-turn after it had taken the wrong route and the SUV (an Audi Q5) with 5 occupants, travelling from Kimberley to Rheebok, collided head-on with the side of the truck.
Nooddienspersoneel was dwarsdeur die nag besig op die ongelukstoneel.
Lees 'n vorige artikel: Update: 2 Die in horror crash
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'