GEORGE NUUS - Brenda Vorster, bestuurder van die George-lughawe het Dinsdag bevestig dat hoewel die lughawe weer oop is, die eerste vlugte eers op Maandag 27 Julie sal vertrek en land.
Volgens haar het Airlink aangedui dat hulle van Maandag tot Vrydag die roete tussen George en Kaapstad sal bedien.
Safair sal Maandag, Woensdag en Vrydag die roete tussen George en Johannesburg bedien en CemAir sal ook vlugte aanbied. Daar sal geen kommersiële vlugte tydens naweke wees nie.
Senzeni Ndebele, senior bestuurder gemoeid met korporatiewe sake by die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), het gesê al open 'n lughawe moet die onderskeie lugdienste self besluit wanneer hulle vlugte hervat.
Protokolle moet gevolg word
Daar is sekere protokolle wat passasiers sal moet volg wanneer hulle by die lughawe aankom. Passasiers sal twee ure voor vertrek moet aanmeld. Net passasiers sal in die lughawegebou toegelaat word. Dit sal slegs 'n situasie van 'drop and go' wees. Passasiers word aangemoedig om hul instapkaarte vooraf aanlyn te bespreek.
By die inweegtoonbanke sal sosiale afstand gehandhaaf word en slegs elke tweede inweegtoonbank sal in bedryf wees. Passasiers moet te alle tye maskers dra en hul temperatuur sal ook gemeet word. As dit meer as 38° is, sal hulle verwys word vir verdere sifting. Daarna sal daar besluit word of die passasier kan reis al dan nie.
Oopstel van lughawe verwelkom
Die besluit om weer die lughawe oop te stel is Dinsdag verwelkom.
Ingrid Cronjé, uitvoerende hoof van die George-sakekamer, het gesê dis 'n goeie ding. "Ons moet êrens begin. Dit sal die ekonomie van die streek help. Dit sal ook met produktiwiteit help."
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap het gesê die voortgesette sluiting van die lughawe het 'n negatiewe impak gehad. Daar was mense wat dringend vrag moes bekom en hulle moes dit per pad deur koerierdienste doen. In sommige gevalle het dit selfs tot sewe dae geneem.
Mense wat meer inligting oor vlugte verlang word aangeraai om die lugdienste direk te kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'