GEORGE NUUS - By Laerskool Blanco en Kretzenshoop Primêr in Blanco was alles slaggereed vir die 2021 akademiese jaar.
Beide skole was positief oor die deurwerk van die jaar se sillabus en die terugkeerprogram wat elke klas in twee groepe verdeel om op 'n roterende basis klas te loop ter wille van sosiale distansiëring.
Laerskool Blanco het 28 gr. 1's wat in twee klasse ingedeel is. Daar is dus net sewe kinders per klas wat al om die ander dag skool mag bywoon, wat voordele inhou, sê die graadhoof, Leana Gilliomee. "Die kleiner klasse kan vinniger deur die sillabus werk, want daar kan meer individuele aandag gegee word. Ons ouers is gelukkig ook baie betrokke en verleen ondersteuning aan hul kinders wat op die alternatiewe dae werk tuis moet afhandel."
Kretzenshoop Primêr se hoof, Elton Titus, het gesê die skool het 114 gr. 1's, soos die vorige jaar.
"Ek glo die skoolterrein is tans die veiligste area vir ons gemeenskap se kinders. Ons het Vrydag die hele skool laat ontsmet. Ons tree proaktief op en sal verseker dat dit skoon bly. Die leerders het mooi gereageer op die terugkeerplan en behalwe vir een of twee, het hulle almal op die regte tye opgedaag. Vandag is daar 432, die helfte uit die totaal van 864 leerders. Met die genade van die Here is ons slaggereed vir die begin van die akademiese program."
Danksy die Wes-Kaapse onderwysdepartement het daar Maandag 232 kospakkies vir die hulpbehoewende leerders van die skool gereed gelê om huis toe te neem.
"Ons het ons voedingsprogram reeds op 28 Januarie begin en ons kon sien hoe honger ons kinders is. By die skool kry hulle pap in die oggend, 'n volledige maaltyd in die middag en 'n vrug. Dit is die enigste kos wat baie van ons kinders op 'n dag kry.
"Ons deel die WKOD se visie van 'stronger together' en glo ons het mekaar se samewerking nou meer nodig as ooit. Ons is dankbaar teenoor die departement wat ook geld beskikbaar gestel het vir die koop van meer as 300 maskers vir ons leerders wat dit nie het nie."
Die helfte van Kretzenshoop se graadeens wat Maandag aangemeld het vir hul eerste skooldag saam met hul skoolhoof, Elton Titus, en juffrouens, Desireé Flores (links), Cindy Coetzee (regs voor) en Wilma Stoffels (agter). Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'