STREEKSNUUS - Die eerste burger van die Baviaans Munisipale Raad, rdh. Ewald Loock, is Maandag hier vrygespreek op ’n kriminele klag van van strafbare manslag.
Die klag spruit uit ’n noodlottige ongeluk op die snelweg tussen De Rust en Oudts-hoorn op 24 Augustus 2008. Loock het omstreeks 20:15 die betrokke aand in die rigting van De Rust gery toe hy ’n vragmotor verbygesteek het. Sy motor het ’n aankomende motorfiets kop-aan-kop getref. Die motorfietsryer, mnr. Danie Saayman (45) van Bloemfontein, is op die toneel dood.
Adv. André Knoetze van die Johannesburg Balie het in opdrag van mnr. GP Steyn van die Willowmore prokureursfirma, Steyn en Van der Merwe, vir Loock verdedig. Loock het onskuldig gepleit voor landdros Johan Steynberg. In die verhoor het Knoetze bo enige redelike twyfel bewys dat Loock nie nalatig was ten tyde van die ongeluk nie.
Die staat het wel getuig dat Loock se optrede onder die omstandighede roekeloos en nalatig sou wees. Daar is beweer dat die ongeluk op ’n donker pad en in die reën plaasgevind het, toe Loock die vragmotor verbygesteek het waar sy uitsig belemmer sou gewees het as gevolg van water wat van die vragmotor se wiele af opgespat het.
Loock het getuig dat dit moeilike bestuurs-omstandighede was, maar dat hy uiters versigtig bestuur het en seker gemaak het dat dit veilig is voor hy die vragmotor verbygesteek het. Hy het verder getuig dat hy ’n slag gehoor het, terwyl hy geen aankomende verkeer gesien het nie.
Steynberg het bevind dat daar onvoldoende getuienis was van die staat se kant om Loock skuldig te bewys.
Loock het Maandag ná hy vrygespreek is aan die Oudtshoorn Courant gesê hy is dankbaar dat die saak afgehandel is.
Hy het sy regspan geloof en gesê die afgelope twee jaar was ’n moeilike tyd in sy lewe.
Hy het sy medelye uitgespreek teenoor die oorledene se familie.
Artikel: Christo Vermaak, Oudtshoorn Courant (susterkoerant van die George Herald).