TUINROETE DISTRIK-NUUS - Die Eden-sportraad loop breëbors rond na die 2018 Wes-Kaapse Sporttoekennings wat Saterdagaand 25 Augustus in Ou Mutual-park in Pinelands deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake & sport aangebied is.
Die gasvrou was die provinsie se minister van kultuursake en sport, Anroux Marais.
Van die 23 kategorië wat vereer is, het Eden-sportpersone en-spanne met nie minder nie as sewe weggestap! As in ag geneem word dat al ses die distrikte finaliste ingeskryf het, plaas dit die prestasie in perspektief.
Elma Davis (Eden-rolbal) is aangewys as sportvrou van die jaar, en net om te wys rolbal is 'n gesinsaak, word manlief Trevor (Eden-rolbal) as die WK-administrateur bekroon.
Die ander wenners was HLS Oakdale se 560kg toutrekspan (skolespan), Jacquine Strydom van Eden-skopboks (WK-skole sportvrou), Antonio Farmer van ASWD (WK-skole sportman), Claudio Miller van Eden-lewensredding (WK-afrigter) en Deidre Cloete (WK-sportfotograaf).
Die hele Eden kan opreg trots wees op hierdie uitblinkers!
'n Paar van die Eden-finaliste en -wenners. Foto's: Verskaf
Ook is Eden-sportraad met reg trots op die ander finaliste:
- ASWD (Federasie),
- Doriano Moretti van Eden Skerm (Nuweling),
- Janine Kotze van Eden Pluimbal (Tegniese Uitmindheid),
- Christo Vermaak van die Oudtshoorn Courant (Sportjoernalis),
- Oudtshoorn Christelike Jeugforum (Rekreasie),
- Kalma Hayes van Eden Perdesport (Gemeenskapsbouer),
- SK Mid-Amateur Gholspan (Span),
- Tembalethu Jukskei (Inheemse Sportspan),
- Alvine Volkwyn van Carpe Diem (Sportvrou met Gestremdheid),
- Chris Patton van Eden Rolbal (Sportman met Gestremdheid),
- Meike Strydom van ASWD (Junior Sportvrou),
- Jean du Plessis van Krieket SWD (Junior Sportman),
- Jovan Rebula van SK Gholf (Sportman),
- Joy Goulooze van Eden Lewensredding (Vrywilliger) en
- Laerskool Franken van Herald se judospan (Ontwikkelingsskoolspan).
Eden-sportraad en die sportgemeenskap van die Eden-distrik salueer hulle!
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'