Witbooi het Dinsdag voor streeklanddros P Govender verskyn en Muller Redelinghuys, die senior staatsaanklaer, het vir die staat verskyn.
In Mei vanjaar is sy aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys, maar is sy borgtog deur die Kaapse hooggeregshof tot 1 Septermber verleng hangende ‘n verdere aansoek na die Appèlhof in Bloemfontein. Nog ‘n aansoek is vroeër die maand ingedien, maar die stukke is egter nooit by die appélhof ingedien nie. Die hof het Dinsdag egter beslis om geen verdere verlenings toe te staan nie en dat Witbooi sy vonnis begin uitdien.
Die polisie het in April 2001 beslag gelê op die mandrax-tablette wat langs die N2-snelweg in onderskeidelik Mosselbaai en George versteek was.
Streeklanddros Thembekile Anna het tydens vonnisoplegging gesê die hof aanvaar die getuienis van die hoofgetuie, Jan Swarts.
Swarts het vir sowat vier jaar (van 1997 tot 2001) vir Witbooi gewerk en is beskou as sy regterhand. Hy was vir ‘n aantal jare in die getuienisbeskermingsprogram en het onlangs uitgekom.
Swarts het getuig hoe hy en ander werkers in die dwelmnetwerk in luukse motors en minibussies van Witbooi vir hom groot besendings dwelms vanuit Johannesburg en Kaapstad na George vervoer het.
Sekere voertuie sou in sommige gevalle voor die voertuie ry wat die dwelms vervoer, net om te kyk op daar enige padblokkades op die roete is. Die dwelms is dan eers op plekke langs die pad versteek voordat dit opgetel en versprei is aan ander handelaars of individue regoor die Suid-Kaap.
Witbooi het destyds self in die getuienisbank ingeskuif en ontken dat hy dwelms verkoop.
Kapt. Calvin Mooi het die saak teen Witbooi ondersoek en was toe verbonde aan die georganiseerde misdaadondersoekeenheid op George. Mooi werk deesdae by die Conville-speurtak.
Die staatsaanklaer in die saak was Hankie Marx. Streeklanddros Anna het in Februarie vanjaar sy stryd teen kanker verloor.
• In 2005 is Witbooi skuldig bevind aan bedrog en belastingoortredings wat in Junie 2004 plaasgevind het. Hy het teen sy vonnis geappelleer, maar sy aansoek het misluk en hy is tronkstraf van 24 maande opgelê vir bedrog. Hy is ook ‘n verdere 18 maande tronkstraf, wat opgeskort is vir vyf jaar, of ’n boete van R20 000 opgelê op aanklagte van die oortreding van die Inkomstebelastingwet.