GEORGE NUUS - 'n Verkeersbeampte is op Donderdag 14 Maart deur 'n dwaalkoeël in sy kantoor by die verkeersafdeling in Pacaltsdorp getref.
Volgens inligting is 'n wapen deur 'n vroulike verkeersbeampte uitgeteken en was sy na bewering besig om dit na te gaan toe 'n skoot afgaan.
Die koeël is deur 'n muur (drywall) en teen ‘n tafel in die vertrek langsaan voordat dit die manlike verkeersbeampte skrams teen die been getref het. Hy het slegs 'n vleeswond opgedoen.
In 'n afsonderlike voorval op dieselfde dag tydens 'n protesaksies in New Dawn Park in Pacaltsdorp, is daar na bewering lewendige ammunisie deur ‘n manlike verkeersbeampte as waarskuwingskote afgevuur toe inwoners hulle met klippe bestook het.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, dui die voorlopige ondersoek daarop dat die beampte se veiligheid bedreig was waarna hy 'n waarskuwingskoot afgevuur het. "Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie," sê Pojie.
In antwoord op 'n navraag rakende albei voorvalle en die prosedures wat daarop gevolg het, het Erasmus gesê die beweerde voorvalle is onmiddellik intern en by die polisie aangemeld.
"Die korrekte prosedure is wel vanaf die begin gevolg en die nodige ondersoek word tans gedoen. Die ondersoek kan ongelukkig nie vooruit geloop word nie en 'n mediaverklaring sal uitgereik word sodra dit afgehandel is," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'