Update
GEORGE NUUS - Kriminele gee deesdae nie om uit wie se voertuig hulle steel nie. Toerusting ter waarde van R500 000 is op Maandag 24 Julie uit 'n polisievoertuig in Thembalethu gesteel.
Die polisie het die volgende dag agt mans tussen die ouderdom van 19 en 33 in hegtenis geneem. Van die gesteelde goedere is in hulle besit gevind. Die res word nog gesoek.
Die verdagtes het Vrydag 28 Julie in die Thembalethu-landdroshof verskyn op aanklag van diefstal en die besit van gesteelde goedere. Die gemeenskap word aangemoedig om nie enige eiendom wat vermoedelik gesteel is, te koop nie.
Dit werk op 'n vraag en aanbod-stelsel.
"As gesteelde goedere nie gekoop word nie, sal die misdaad in die gemeenskap ook verminder, want daar is nie aanvraag daarvoor nie. Mense moet eerder die polisie skakel. Só doen die gemeenskap ook hulle deel om misdaad te beveg," sê Thembalethu-polisie se kommunikasiebeampte, kapt. Dumile Gwavu.
Van die toerusting wat uit die polisievoertuig gesteel is, is die volgende dag in die besit van die verdagtes gevind. Van links is konst. Luthando Jantjie, sers. Nontuthuzelo Kantien, sers. Zolani Jele, adjudant-offisier Samuel Gawie, konst. Khaya Mshumpela en sers. Zukiswa Mzini.
Volgens konst. Rachel Hendriks, kommunikasiebeampte van George-polisie, neem diefstal vanuit motorvoertuie in die middedorp en Loeriepark-areas ook toe.
Motoriste word gemaan om nie waardevolle items in hulle motors te los waar dit sigbaar is nie. Die publiek word ook gevra om nie groot bedrae geld te trek en dit in hul voertuie te los nie.
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'