Daar word vermoed dat die BMW versuim het om die stopteken te gehoorsaam by die interseksie van die ou lughawe- en Blanco-pad.
‘n Tweede ongeluk het nader aan George op die R404 gebeur toe ‘n dubbelkajuit-noodreddingsvoertuig van Metro Emergency Medical Services, wat op pad was om hulp aan die mense in die eerste ongeluk te bied, self gerol het.
In die eerste botsing het die meeste studente geringe beserings opgedoen, maar die bestuurder, Xolani Tshaka, se een been is gebreek. Tshaka was vasgepen in die onderkant van die bussie wat op sy sy te lande gekom het na dit verskeie kere gerol het.
Aron Lucas (18), een van die studente - wat almal op pad was om te gaan eksamen skryf - sê hy was besig om met iemand te gesels toe hy die persoon wat voor in die bussie gesit het, hoor gil het. "Toe ek opkyk sien ek net hier kom die BMW en ek het my kop vasgehou," sê Lucas. Hy was vir dae daarna nog styf en lyfseer.
Neels Gerber was een van die ouers wat hom na die toneel gehaas het toe hy ‘n selfoonoproep ontvang dat sy enigste kind in ‘n ongeluk was. "Dit was ‘n helse skok - dit was net te veel vir een dag," sê Gerber.
Sy seun, Heunis (16) het met ‘n nekstut en bebloede mond saam met die ander studente verdwaas rondgestaan. Hy het sy nek beseer en ligte harsingskudding opgedoen.
Sy pa sê hy praat soms deurmekaar en sy eksamen moes uitgestel word omdat sy korttermyngeheue aangetas is. Sy regteroor het ook vermoedelik ‘n hou weg, want hy sukkel om te hoor. "Ek was besig om te sms toe dit gebeur het, dus het ek nie gesien wat kom nie," vertel Heunis heel vrolik.
Sy beste vriend, Jacques Eva (16) se hand is gebreek. Hy het probeer vashou terwyl hulle rol en vir sekondes onderstebo gehang het.
In die tweede ongeluk was die noodreddingsbestuurder glo ‘n nuwe rekruut. "Hy was agter ‘n ambulans wat agter ‘n sedanvoertuig was. Dié voertuig het skielik regs gedraai en die ambulans het toe links geswenk. Ons paramedikus het ook geswenk om ‘n botsing te voorkom, maar ‘n sloot getref langs die pad wat hom ongelukkig laat rol het," verduidelik Kerry Davids, Wes-Kaapse woordvoerder van Metro Emergency Medical Services. Dié noodreddingswerker het sy regterskouer beseer.
Ali Dyabaza, adjunkhoof- uitvoerende beampte van Suid-Kaap Kollege se kor-poratiewe dienste, wat ook in beheer van hul voertuigvloot is, het sy waardering uitgespreek teenoor die SAPD, verkeers-amptenare, paramedici en die George-hospitaal se personeel.
"Ons het onmiddellik ‘n inbelsentrum ingerig en die ouers en vriende van dié wat in die botsing betrokke was, is gekontak om hulle by die hospitaal te gaan ondersteun," sê Dyabaza.
Ulricha de Klerk van die kollege se studente-ondersteuningsdienste, het Maandag met traumaberading vir die studente en die bussiebestuurder begin.
Dyabaza het die bestuurder en studente ‘n spoedige herstel toegewens.
Artikel en foto: Anoeschka von Meck.
Die BMW wat duidelik ‘n harde slag teen die kant gehad het.
Die dubbelkajuitbakkie van Metro wat in die tweede ongeluk gerol het.
Heunis Gerber en Jacques Eva nog in skok net nadat hulle by ‘n oop venster van die bussie uitgeklouter het.