Dit is wat Jakkalsvlei Privaatkelder se Barefoot Grape Dance Saterdag, 5 Maart jou bied.
Dit word op die plaas Jakkalsvlei van Jantjie Jonker gehou. Kaartjies kos R350 en sal jou in staat stel om die dag tussen 10:00 en 17:00 te geniet terwyl jy ook ‘n bydrae lewer tot die maak van jou eie bottel Cabernet.
Bring jou hele vriendekring vir die dag en word deel van die pluk en trap van druiwe in ‘n egte vaatjie en op die maat van romantiese musiek verskaf deur een van die voorste cabaret-sangers in die streek. Hier-mee saam word keurige geregte en drankies bedien om jou sintuie verder te prikkel.
Jantjie Jonker is alombekend vir sy pryswenner-wyne en het reeds talle titels vir sy keurgraad-wynreeks ingepalm. Hy was ook ‘n wenner in die jong boer van die jaar-kompetisie.
Met die wyntrap bied Jakkalsvlei ‘n unieke ervaring wat min mense al beleef het.
As ‘n bonus gaan Jantjie die produk van deelnemers se harde parswerk bottel. Later in die jaar gaan elkeen wat ‘n kaartjie gekoop het, ‘n gebottelde weergawe van Jakkalsvlei se Reserved Cabernet Sauvignon ontvang - afgelewer by hul voor-deur.
Slegs 100 kaartjies is beskikbaar. Vir besprekings, skakel Jantjie by 028 735 2102 of 082 822 4131.
Indien jy hierdie wyntrap weens ander planne of onvoorsienighede misloop, kan jy steeds Jakkalsvlei Privaatkelder tussen 11 Februarie en 12 Maart besoek vir die ‘Pick Your Own’-aanbod om jou eie hanepoot te pluk. Bring jou eie mandjie en skêr, pluk soveel druiwe soos jy nodig het en geniet ‘n heerlike glasie wyn en ‘n smaaklike kaasbord daarmee saam.
Rigtingaanwysings: Jakkalsvlei is sowat 40km van Mosselbaai geleë. Volg die N2 in ‘n westelike rigting en draai regs by die Herbertsdale-afrit (reg voor PetroSA). Volg die pad na Herbertsdale (ongeveer 40km). Draai links voordat die Herbertsdale-dorpsgebied op die Albertinia-pad binnegaan word, volg hierdie pad vir ongeveer 8km. Daar sal aanwysings wees na Jakkalsvlei.
Trap daai druiwe!