TUINROETE NUUS - Die lyk van 'n jong man wat Maandagmiddag, 20 November, kort na 13:00 naby Dolphin's Point in die Kaaimansrivier uitgespoel het, is dié van Franklin Booysen (17) van Thembalethu.
Konstabel Rachel Hendriks, kommunikasiebeampte van George-polisie, het bevestig dat die seun se lyk gistermiddag deur sy ma se bure uitgeken is.
Booysen is Donderdag 16 November as vermis aangemeld nadat hy nie Woensdagaand huis toe gekom het nie.
Sy suster, Geraldine Maswati (27) het die George Herald Dinsdagoggend gekontak na aanleiding van 'n inskrywing op die koerant se Facebook-blad oor 'n lyk wat by Kaaimansrivier uitgespoel het.
Die koerant het die polisie in kennis gestel en die seun se ma, Susanna Maswati, gekontak.
Maswati is Dinsdagoggend na die lykshuis om die lyk uit te ken, maar weens die erge stadium van ontbinding is sy nie toegelaat om die lyk te besigtig nie.
Die liggaam was na bewering reeds 'n geruime tyd in die water.
Haar buurman het gister (Woensdag) die lyk gaan uitken.
Die oorsaak van sy dood sal deur 'n nadoodse ondersoek bevestig word.
Geen verdere inligting is in hierdie stadium bekend nie.
Lees verwante artikels:
• Lyk spoel uit in Kaaimans
• Lyk spoel uit by Kaaimans
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'