Net voor daar tot stemming oorgegaan is om die sage op Vrydag, 27 Junie af te sluit, het die ANC en Icosa-raadslede uitgestap en die vergadering sonder 'n kworum van 18 raadslede gelaat.
Slegs 16 DA, ACDP en Cope raadslede het agtergebly. Verskeie pogings om die drie DA-raadslede wat ook op die Eden-raad dien, uit 'n George-raadsvergadering te lok om die getal Eden-raadslede aan te vul, sodat daar tot stemming oorgegaan kon word, het misluk.
Nayler moes tou opgegooi en die vergadering verdaag. Selfs die DA se provinsiale onderleier en Eden se kiesafdelingshoof, Minister Theuns Botha, is sonder sukses geskakel om hulp te verleen om die drie DA-raadslede opdrag te gee om by Eden te gaan aan sluit.
Die drama het gevolg op die DA-Eden se besluit om sy burgemeester, Wessie van der Westhuizen, te vervolg, aan te kla en toe aan te beveel dat hy geskors word. Dit het 'n dwarsklap van die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Anton Bredell, gekry toe hy gedurende April vanjaar die aanbeveling omvergewerp het.
Bredell het Van der Westhuizen se kommer dat die voorsitter van die verhoor-komitee, Lionell Esau, bevoordeel kon gewees het, as rede aangevoer vir sy besluit. Eden se speaker, Doris Nayler, kon nie rus vind by Bredell se besluit nie en het Bredell versoek om sy besluit te verduidelik, wat hy toe in 'n sewe-bladsy omvattende brief aan haar gedoen het.
'n Aanbeveling dat daar kennis geneem moes word van Bredell se antwoord aan Nayler en ook dat verdere aksie oorweeg moes word deur die raad, is op versoek van die DA se Tertuis Simmers tydens die vergadering verander dat dit slegs lees: "Dat kennis geneem word van die verslag." Hy het versoek dat geen verdere aksie oorweeg word nie.
Die ANC se hoofsweep het te velde getrek teen die DA en die hele Van der Westhuizen-ondersoek en antwoorde gesoek oor die R713 330.08 wat die ondersoek die belastingbetalers uit die sak gejaag het. Hy het die speaker daarvan beskuldig dat die geld gebruik is om vir DA interne gevegte te betaal.
Vir Van der Hoven was dit onaanvaarbaar dat die DA net skielik die hele ondersoek net eenvoudig onder die mat invee.
"Ons gaan nie verder deelneem aan die vergadering nie," het hy gesê voor die regerende koalisie in die donker alleen agtergelaat is.
Een van die drie DA-raadslede, Gert Niehaus, het verduidelik dat hulle nie die George-vergadering kon verlaat nie aangesien hulle in die middel van 'n item was. "Ook lê my verantwoordelikhede by die George-raad. Ek is deur hulle ingestem en gekwoteer op die Eden-raad." Nayler het gesê 'n nuwe datum vir die vergade-ring sal bekend gemaak word.
Die Van der Westhuizen ondersoek het 'n politieke storm begin 2013 binne die Eden-raad veroorsaak toe 'n konfidensiële 30-bladsy verslag aan die media uitgelek het, waarin aanbeveel word dat departementele, sowel as kriminele klagtes teen Van der Westhuizen oorweeg moet word.
Die verslag was saamgestel deur die bekende Kaapstad forensie firma, ENS Forensics, wat in die opsomming van hul ondersoek beweer het dat die Eden-burgemeester hom aan bedrog en vervalsing skuldig gemaak het.
Die beweringe het verband gehou met reis- en verlyfeise, sowel as 'n eis om 'n uitbetaling aan 'n plaaslike gastehuis te maak.
Van der Westhuizen het van die begin van die ondersoek volgehou dat die raad is besig met 'n heksejag teen hom.

Raadslede Tertuis Simmers, Gibo Gerber en Doris Nayler (speaker) besig om telefonies te poog om raadslede uit 'n George-raadsvergadering te lok.Foto: Christo Vermaak
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK
'Ons bring jou die nuutste Eden Distrik nuus'