GEORGE NUUS - 'n Bakleiery buite 'n taverne in Conville het inwoners Sondagaand na hul deurgrendels laat gryp. 'n Groep oproeriges het omstreeks 21:30 buite Red Lion Lounge, op die hoek van Swawel- en Mentzstraat, saamgedrom.
Hulle is later deur die polisie uiteengejaag.
Uit gesprekke met inwoners wat anoniem wil bly, het die drama met bendegeweld te doene. Blykbaar is drie mense tydens die gebeure met messe gesteek.
Sake is by die polisie gemaak, sommige is glo weer teruggetrek. Niemand is tydens die voorval noodlottig beseer nie.
Die eienaar van die taverne se voertuig, wat voor die gebou gestaan het, is ook deur oproeriges beskadig. Die voertuig is glo met voorwerpe getakel.
Volgens die eienaar is die saak by die polisie aangegee en word dit tans ondersoek. Die staalhek voor Red Lion Lounge is ook beskadig.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het bevestig dat twee sake deur die polisie in Conville ondersoek word - aanranding met die doel om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging - na die afloop van die gebeure in Swawelstraat.
"Daar word beweer dat die slagoffer (22) deur 'n vrou met 'n glas aangerand is nadat hy in 'n bakleiery ingegryp het. Hy het beserings aan sy gesig opgedoen. Verder is 'n voertuig wat by die perseel geparkeer was ook beskadig. Albei sake word deur die polisie ondersoek," het Spies gesê.
Die taverne-eienaar se Peugeot 108 is Sondagaand, 26 Maart, deur oproeriges onherstelbaar beskadig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’