GEORGE NUUS - Die grendeltyd het 'n impak op mense se gesondheid weens baie pasiënte met chroniese siektes wat nie gereeld hul afsprake vir behandeling en medikasie nagekom het nie.
"Dienste wat 'n lae risiko het, maar met 'n hoë impak, soos immunisering, wat weens die pandemie aansienlik afgeneem het, sal 'n langtermyn-impak hê op mense wat immunisering, opvolgafsprake en geskeduleerde nie-noodbehandelings gemis het," het Nadia Ferreira, distrikswoordvoerder vir die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, by navraag gesê.
Immunisering het met 22% afgeneem.
Volgens Ferreira het personeel ook minder uitreike in gemeenskappe gedoen as gevolg van die risiko van Covid-19.
Sy sê die departement fokus egter nou daarop om op te vang op die dringendste essensiële gesondheidsdienste sonder om die veiligheid van pasiënte en personeel in gevaar te stel. "Ons gemeenskapsgesondheidsorgwerkers gaan nou weer uit na die gemeenskappe om pasiënte te besoek wat nie by hul behandelingsprogramme gehou het nie. Ons moedig ook chroniese pasiënte aan om met hul gesondheidswerker by hul kliniek te gesels as hulle nie hul medikasie gereeld geneem het nie."
Ferreira sê soos wat Covid-19-gevalle minder word, hoop hulle om alle pasiënte weer gereeld vir dienslewering by die gesondheidsfasiliteite te sien. "Uitreike sal ook later weer hervat word soos die aantal infeksies afneem. Ons moedig mense aan om altyd hul maskers te dra wanneer hulle uitgaan en om ag te slaan op die maatreëls van fisieke distansiëring."
Sy het gesê die departement sal 'n gefaseerde benadering volg om alle gesondheidsdienste weer by te bring, met die inagneming van risiko en impak, midde-in die hantering van die Covid-19-pandemie.
Bykomende personeel is by gesondheids-fasiliteite ingekry om te help waar 'n tekort aan personeel ondervind word weens hulle risikoprofiel om Covid-19 te kry.
Voorkomende dienste beskikbaar
Alle voorkomende dienste word tans aangebied, naamlik vrouegesondheid (gesinsbeplanning, voor- en nageboortesorg), mansgesondheid, kindergesondheid (immunisering), en die bestuur van chroniese siektes (TB, HIV en diabetes).
Ferreira sê stabiele chroniese pasiënte moet hul medikasie optel by die onderskeie punte wat spesifiek ingerig is vir die lewering daarvan. Pasiënte wat raad verlang rondom hulle huidige behandeling of 'n geskeduleerde afspraak, kan hul kliniek of naaste hospitaal skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'