Albei was in ‘n gehawende toestand met sommige sitplekke wat feitlik heeltemal los was, ‘n los sitplekgordel, remme wat na aan onklaar was, probleme met die stuurwiele, gladde bande, en deure wat met toue toemaak. Die voertuie was erg geroes en albei het panele aan die bakwerk gehad wat halfpad losgekom het.
Assistent-supt. Lafras Boesak van die polisie het die twee voertuie as "doodskiste op wiele" beskryf. Hy was deel van die span wat betrokke was by Dinsdag se optrede.
Nie een van die taxi’s het voertuiglisensies gehad nie. Op die een se voorruit was ‘n vervalste lisensieskyfie. Die bestuurders het ook nie oor die vereiste permitte beskik vir die vervoer van mense nie.
"Die een taxi is ‘n totale wrak. Hulle is nie slegs ‘n gevaar vir hulleself en hul eie passasiers nie, maar ook vir ander padgebruikers," het Boesak gesê.
Die twee bestuurders, mnre. M Malilwana en M Myeili, is gearresteer vir die vervoer van persone sonder permitte, vervalste dokumentasie en vir uitstaande lasbriewe vir verkeersoortredings.
Volgens verkeersbeampte Elton Saptoe beweer taxi-operateurs dat die owerhede hulle teiken, maar hy sê hulle tree slegs strenger op sedert die afskop van Operasie Uitstaande Lasbriewe, waaroor die George Herald vroeër dié maand berig het.
"Ons handhaaf nou zero toleransie as deel van hierdie operasie. Met elke voertuig wat ons voorkeer, gaan ons na of die eienaar uitstaande lasbriewe teen sy naam het. Indien wel, registreer ons ‘n saak by die polisie en vat dit landdroshof toe. Ons tree nou strenger op as om net nog boetes uit te reik, en ons behandel alle padgebruikers dieselfde."
Gedurende September is 300 lasbriewe van net meer as R200 000 reeds ingevorder.
"Hoe meer ons die operasie uitbrei, hoe skerper gaan ons invorderings raak. Ons nooi die publiek om eerder na die Verkeersdepartement te gaan of hulle te skakel om te hoor of hulle uitstaande boetes het. Ons sal mense tegemoetkom en kan reëlings tref vir betaling," het Saptoe gesê.
Kinders onwettig vervoer
Maandag is ‘n vrou wat 11 kinders skool toe vervoer het in ‘n Toyota Verso ook van die pad afgetrek. Volgens Saptoe word sy R3 000 per maand betaal vir haar dienste, maar sy beskik nie oor ‘n publieke-vervoerpermit nie.
"Dit blyk ‘n toenemende tendens te wees om skoliere op hierdie manier te vervoer, maar dit is onwettig."
Boesak en Saptoe is in Dinsdag se optrede ondersteun deur verkeersbeampte Durendo Christo.
Deurlopende operasies gaan voort en spanne van die polisie en verkeer sal feitlik daagliks op verskillende plekke in die dorp optree.
SIEN NOG FOTO'S HIER.
.jpg)
Assistent-supt. Lafras Boesak van Verkeer het dié twee minibustaxi’s beskryf as "doodskiste op wiele". Hy was deel van die span wat betrokke was by Dinsdag se optrede.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS