GEORGE NUUS - Twee dominees van George, wat saam sweet met die ander tuinhardlopers van George om 'n voorbeeld van fiksbly en vasbyt in die inperkingstyd vir hul gemeentelede te stel, is Francois Mulder van die NGK Blanco-gemeente en Steve van der Walt van die Moedergemeente.
"Van ons predikante se situasies is uniek want ons het nie net die pastorietuin om in te hardloop nie, maar darem ook die kerkterrein en kerkgebou. Volgens die regulasies mag slegs predikante en werkers wat permanent op of langs die kerkterrein bly, op die perseel en in die kerkgebou beweeg en toe ek dit uitvind was ek baie verlig, want ek sou eers net in die pastorietuin hardloop," sê Mulder.
Sy vrou, Karina, en Eevee, hulle Malteser, hardloop saam en hulle mik vir vyf of ses dae van die week.
Tanya Moller, 'n Blanco-gemeentelid, is self baie fluks en het onlangs haar 42ste kilometer gedurende die inperking afgelê. Sy is baie tevrede dat sy nie 'n dag se hardloop oorgeslaan het nie. "Ek het my 42 km-uitdaging oor 21 dae afgelê! Dankie, Jesus," het sy op WhatsApp gesê.
Ds. Steve van der Walt van die Moedergemeente is waarskynlik die fiksste predikant in die dorp. Hy hardloop, doen Crossfit én ry fiets. "Ek wissel dit af. Ons Crossfit-afrigter stuur elke tweede dag vir ons oefenprogramme. Aan die einde van die dag stuur ons op ons groep 'n foto van onsself en ons tyd wat die program geneem het. Tussendeur vermaak ons mekaar ook met snaaksighede."
Hy het in totaal meer as vyf ure op sy oefenfiets deurgebring (ongeveer 125 km), omtrent 27 km gehardloop in sy kort oprit van 30 meter meer en het meer as vier ure se CrossFit agter die rug. "Ek het nie gewigte by die huis nie, so ek het sommer my tent gebruik vir sekere oefeninge," sê hy.
Ds. Steve van der Walt van die Moedergemeente op sy oefenfiets.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'