Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Danksy die weldaad van 'n inwoner en 'n groot busmaatskappy, kon die dogter van 'n oudinwoner, Pieter Koen, die afgelope naweek, saam met haar familie, deel in die 85-jarige verjaarsdagvieringe van haar pa.
Salmarie Koen het verlede week per bus na Johannesburg gereis en vandaar na Delmas in Mpumalanga waar haar ouers, Pieter en Rina Koen deesdae woon.
Die Koens het verlede jaar daarheen verhuis. Oom Pieter was baie bekend vir sy welige groentetuin in Meyerstraat, oorkant die NG kerk, Bergsig. Hy en sy vrou het 54 jaar lank in Meyerstraat gewoon.
Salmarie het Maandag aan George Herald vertel dat sy Woensdag 'n verjaarsdagboodskap op die Facebook-blad, Georgiete Staan Saam, vir haar pa geskryf het. Hy het die volgende dag op 11 Augustus verjaar.
Sy het onder meer geskryf: "Ek is nie daar in lewe nie, maar in my hartjie is ek by pa en pa moet onthou ek is baie baie lief vir pa."
Volgens Salmarie wou sy dit graag bywoon, maar finansieel was dit nie moontlik nie. Sy het verlede jaar haar werk as gevolg van 'n besering verloor en kon ook nie verlede jaar daar wees nie.
Sy het op Donderdag 11 Augustus 'n boodskap van Michelle Valentyn, die bestuurder van Intercape George, gekry. Valentyn het haar boodskap gesien en sy en die busmaatskappy het besluit om vir haar 'n gratis retoerkaartjie beskikbaar te stel.
Sy moes die middag om 16:00 by die George-stasie wees. "Ek het in trane uitgebars."
Salmarie moes vinnig reëlings tref sodat sy nog die middag kon vertrek.
Sy het Vrydagoggend in Johannesburg aangekom en haar suster, Ronel Lowies, het haar by die stasie gaan haal. Hulle is toe na Delmas, waar haar niksvermoedende pa gewag het.
"My pa was baie verras om my die middag te sien. Dit het vir almal in die familie en veral my pa, baie beteken dat ek daar kon wees."
'n Verjaarsdagkoek vir Pieter Koen (85).
Al was sy nie Donderdag daar nie was dit nie 'n probleem nie, want die verjaarsdag-vieringe is eers die afgelope naweek gehou.
VIDEO: Kyk pa, ek het kom kuier
Valentyn het gesê sy en die maatskappy het dit nie gedoen om erkenning te kry nie. "Dit was bloot 'n goeie gebaar. Ek plaas my altyd in iemand anders se situasie. Dit kon net sowel ek gewees het."
Toe sy die boodskap lees het dit haar hart geroer. Sy het besluit om iets te doen en te help. "Ek is baie dankbaar dat ek kon help."
Pieter Koen (85) by van die lekkernye wat vir sy verjaarsdag gemaak is.
Michelle Valentyn (links) bestuurder van Intercape George en Salmarie Koen, Donderdag. Die foto is geneem kort voor Salmarie se vertrek na Johannesburg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'