Dit was die versugting van die 16-jarige Riana Koen van George aan haar kêrel, Jean-Pierre van den Berg, nadat 'n sterk seestroom haar op tweede Kersdag by Leentjiesklip meegesleur het. Maar danksy die heldhaftige optrede van Van den Berg het hy sy vriendin van 'n paar maande van 'n gewisse waterdood gered.
Van den Berg het van Brakpan in Gauteng met die bus gery om vir Koen te kom kuier. Die twee het mekaar danksy gemeenskaplike vriende ontmoet. Hulle het op tweede Kersdag met die treinspoor van Victoriabaai af in die rigting van Wildernis gestap om by Leentjiesklip te gaan swem.
Naby die treinbrug het Koen kniediep in die water gaan staan terwyl Van der Berg op die rotse bly sit het. Koen sê die een oomblik het sy nog in die water gestaan, maar in 'n ommesientjie is sy deur die sterk seestroom meegesleur en kon sy nie meer staan nie. "Ek is 'n sterk swemmer, maar die krag van die seestroom het my oorweldig. Ek het paniekbevange geraak en begin gil en skreeu om Jean-Pierre se aandag te trek."
Hy het onmiddellik ingeduik en na haar geswem. Sy was nog by haar positiewe toe Van den Berg haar bereik het, maar het toe vir 'n rukkie haar bewussyn verloor. Gelukkig was sy nie lank onder die water nie en kon hy daarin slaag om haar ná 'n gesukkel veilig na die rotse terug te bring.
Omstanders het die nooddienste gebel en die nooddienshelikopter is uit Oudtshoorn
ontbied. Koen is eers opgepik en op die strand by Leentjiesklip na veiligheid gebring waarna 'n erg getraumatiseerde Van den Berg van die rotse af opgetel is.
Nooddienswerkers het daarin geslaag om Koen in die ambulans te stabiliseer vanwaar sy na die George-hospitaal geneem om vir vog op albei haar longe behandel te word. Sy is 'n dag later ontslaan, maar sy mag vir die volgende ses maande nie enige sport beoefen nie omdat die dokters wil seker maak dat haar longe en hart behoorlik van dié trauma herstel het.
Van den Berg het uit Brakpan aan die George Herald gesê die voorval het hulle baie nader aan mekaar gebring. "Ek is nie 'n held nie en het net instinktief ingespring om Riana te help. Ek het dit bloot gedoen omdat sy vir my beslis die moeite werd is. Sy is 'n fantastiese meisie."
Van den Berg se ma, Desiré, sê hoewel die tweetjies nog jonk is, verwag sy dat iets groters in die toekoms uit die verhouding sal ontwikkel.
Koen sê hulle sal vandag (Donderdag) presies 2 maande en 4 weke vas uitgaan. Sy het haar diepe dankbaarheid uitgespreek teenoor die dokters en nooddienswerkers wat gehelp het om haar te stabiliseer en ook vir al die mense wat vir haar gebid het. "Dit was nie my tyd om te gaan nie. Daarom het die Here vir Jean-Pierre op my pad geplaas."

'n Erg getraumatiseerde Jean-Pierre van den Berg probeer aan nooddienswerkers verduidelik hoe hy sy meisie, Riana Koen, van 'n gewisse waterdood in die see naby Leentjiesklip gered het. Afgesien van 'n paar lelike skrape aan sy bene, was hy ongedeerd.
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-JOERNALIS