GEORGE NUUS - Dit moet eindelik elke dag Madibadag wees en daar behoort meer Madibas in ons samelewing te wees. So vertel Siena Ruiters wat 'n kleuterskool vir die gemeenskap in Borcherds bedryf sonder om 'n sent salaris te ontvang.
Ruiters het met die George Herald gepraat aan die vooraand van die jaarlikse Madibadag waartydens die verjaarsdag van wyle pres. Nelson Mandela herdenk word.
Op die dag kry mense die geleentheid om vir 'n rukkie tyd af te staan en iets terug te ploeg vir gemeenskappe.
Ruiters is 'n sprekende voorbeeld van die Madibadag-gesindheid. Die kleuterskool staan bekend as, Die Huis van Gebed-speelgroep. Sy het dit reeds agt jaar gelede begin en dit word van haar en haar man, Jakob se huis bedryf.
Op die oomblik is daar sowat 20 kinders tussen die ouderdomme van drie en vyf jaar. 'n Spesifieke program word elke dag gevolg. Ouers en familie laai die kinders soggens 07:00 af en tel hulle weer om 17:00 op. In die oggende kry hulle pap vir ontbyt en 11:00 eet hulle verversings wat hulle self saambring. Om 13:00 ontvang hulle middagete.
Volgens Ruiters betaal die ouers en familie 'n minimale fooi wat as "skoolfonds" dien. "Ons het nie borge nie en ontvang ook nie enige hulp van die staat nie."
Daar is twee opvoeders en 'n kok wat haar help. Die opvoeders ontvang 'n minimale bedrag elke maand afhangende van hoe die ouers/familie die "skoolfonds" betaal.
Soms ontvang hulle hulp uit die gemeenskap en by tye gebruik sy selfs 'n deel van haar man se salaris om kos en toerusting vir die kinders te koop.
Sy doen dit uit liefde van die saak en omdat sy lief is vir kinders. Dit is ook 'n wyse om iets terug te ploeg vir die gemeenskap.
Uit haar ervaring is daar groot behoefte vir so iets. "Die nood is groot. Daar is baie kinders wat in die strate loop. Hulle ouers het nie geld om hulle in kleuterskole te sit nie."
Die terugvoering wat hulle ontvang is baie positief. Sy glo daar is meer mense nodig met die ingesteldheid van Madiba. Mense is soms vasgevang in hul omstandighede en hulle weet nie hoe om daar uit te kom nie. Elke bietjie hulp help.
Dit gebeur soms dat mense by hulle kom aanklop, omdat hulle nie kos het om te eet nie. Hulle probeer dan help.
In die stadium is een van die groot behoeftes om die kleuterskool weg van haar huis op 'n ander perseel te bedryf. Sy akkommodeer reeds verskeie mense in haar huis en dit is 'n groot uitdaging.
Nog iemand wat nie geld vir haar naaste diens ontvang nie is Griet Hartnick van Pacaltsdorp. Sy bedryf al meer as 15 jaar 'n sopkombuis, die Sonskyn-sopkombuis van haar huis. 'n Plekkie is by die huis aangebou vir die sopkombuis.
Sop word vir hoofsaaklik kinders en siek mense op Dinsdae en Donderdae gegee. Soms selfs vir volwassenes en niemand word weggewys nie. Soms daag tot 80 mense op. Sy koop uit haar eie sak die groente en ontvang hulp van die George-munisipaliteit en privaat maatskappye. Sy ontvang ook soms donasies.
Volgens haar is die nood groot. "Dis moeilik om te beskryf as jy iemand sien wat honger is."
Kinders by Die Huis van Gebed-speelgroep in Borcherds wat deur Siena Ruiters bedryf word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'