GEORGE NUUS - "Dit gaan beter, maar ons is steeds onder groot druk," sê Patrick Botto, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders, in George.
Botto, een van die organisasie se 27 skilders, het by navraag kommentaar gelewer oor die druk waaronder hulle verkeer. Die organisasie is vroeër vanjaar ook geraak deur die Covid-19-inperkingsmaatreëls en die kantoor was vir weke toe.
George Herald het reeds op 10 September die eerste keer berig dat die organisasie 'n onseker toekoms in die gesig staar en moontlik hul deure sal moet sluit. Die organisasie se hoofkantoor is in George en is 'n nie-regeringsorganisasie (NGO).
Die kantoor is eers 'n tydjie gelede weer heropen. Botto het Dinsdag gesê hulle oorweeg dit darem nie om hul deure te sluit nie. "In die stadium is ons grootste uitdaging om 'n ander perseel te kry. Ons kan nie meer die een in Yorkstraat bekostig nie."
Die skilders is baie afhanklik van die inkomste wat hulle verdien uit die verkoop van hul kunswerke en ander produkte.
Volgens hom is hulle nou in 'n belangrike tyd. Gedurende die vakansietyd is hier baie besoekers en in Desember het hulle baie posbestellings met onder meer Kersfeeskaartjies, kalenders vir 2021 en ander produkte.
Besoek die winkel In Yorkstraat, langs die Landbankgebou, skuins oorkant die Garden Route Distriksmunisipaliteit.
Hulle is baie dankbaar vir die hulp wat hulle reeds ontvang het. Enige bydraes en hulp is steeds welkom. Kontak hulle by 044 873 4584 of 084 573 0604.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'