GEORGE NUUS - ‘n Vermiste Amerikaanse veghond (pit bull) -teef is verlede week binne ure deur die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging (DBV) teruggevind na sy glo uit haar eienaar se erf gesteel is.
“Ek het Vrydag, 4 September, die plasing oor die vermiste hond op Facebook gesien. Die eienaar het beweer die hond is die vorige aand uit haar erf gesteel. Iemand anders het in hul kommentaar op die plasing genoem dat hulle ‘n man met die hond in die dorp sien loop het, maar dit was ure na hulle die hond gesien het,” vertel Tuinroete DBV-bestuurder, Salomé Bruyns.
Bruyns en DBV-inspekteur, Andrea Auerbach, het dadelik na die hond begin soek, maar kon hom nêrens kry nie. “Ons het die dorp platgery, maar kon hom nie vind nie. Wie sal dan ‘n hond steel en ure later met haar in die dorp rondloop asof dit sy eie is?”
‘n Paar ure later, tydens Bruyns se middagete, het iemand haar laat weet dat die man en die vermiste hond in Hoopstraat gesien is. “Ek was gelukkig net om die draai en kon vinnig daar uitkom. Ek het die man gekonfronteer en die eienaars in kennis gestel sodat hulle die hond kon kom identifiseer,” sê Bruyns.
Volgens Bruyns het die man voet by stuk gehou dat dit sy eie hond is vandat sy ‘n klein hondjie was en het geweier om die hond aan haar te oorhandig. “Hy het hard probeer om my te oortuig dat dit sy hond was. Siestog, sy was uit haar vel toe haar eienaars opdaag,” sê Bruyns.
Bruyns het aan die eienaar voorgestel om ‘n saak van hondediefstal te maak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'