Update
GEORGE NUUS - 'n Vermiste Amerikaanse veghond (pit bull), Lady, is verlede week binne ure deur die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging (DBV) teruggevind na sy glo uit haar eienaar se erf in Parkdene gesteel is.
"Ek het Vrydag 4 September die plasing oor die vermiste hond op Facebook gesien. Die eienaar het beweer die hond is die vorige aand uit haar erf gesteel. Iemand het in hul kommentaar op die plasing genoem dat hulle 'n man met die hond in die dorp sien loop het, maar dit was ure na hulle die hond gesien het," vertel Tuinroete DBV-bestuurder, Salomé Bruyns.
Bruyns en DBV-inspekteur, Andrea Auerbach, het dadelik na die hond begin soek, maar kon hom nêrens kry nie. "Ons het die dorp platgery, maar kon hom nie vind nie. Wie sal dan 'n hond steel en ure later met haar in die dorp rondloop asof dit sy eie is?"
'n Paar uur later, tydens Bruyns se middagete, het iemand haar laat weet dat die man en die vermiste hond in Hoopstraat gesien is. "Ek was gelukkig net om die draai en kon vinnig daar uitkom. Ek het die man gekonfronteer en die eienaars in kennis gestel sodat hulle die hond kon kom identifiseer," sê Bruyns.
Volgens Bruyns het die man voet by stuk gehou dat dit sy eie hond is vandat sy 'n klein hondjie was en het geweier om die hond aan haar te oorhandig. "Hy het hard probeer om my te oortuig dat dit sy hond was. Siestog, sy was uit haar vel toe haar eienaars opdaag," sê Bruyns.
Bruyns het aan die eienaar voorgestel om 'n saak van hondediefstal te maak.
"Ons is baie bly om Lady terug te hê," sê Louverna Vries. Sy het Vrydagoggend agtergekom Lady is weg en dadelik vermoed sy is gesteel.
"Gewoonlik wag sy in die oggende vir my by die agterdeur. Ek het haar geroep, maar sy was nêrens te sien nie en ek het besef sy is uit ons erf gesteel. Ek het dadelik 'n plasing op Facebook gemaak en die DBV in kennis gestel. Ons is baie lief vir haar en was bitter bekommerd.
"Baie dankie vir die DBV dat hulle haar so vinnig kon opspoor en dankie aan almal wat bygedra het dat sy so vinnig gevind is. Van nou af slaap sy binne in ons huis," sê Vries.
Vorige artikel: DBV vind vermiste hond in 'n japtrap
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'