Update
GEORGE NUUS - Die gevare rondom 'n dam naby Rosedale, Pacaltsdorp, het nou 'n realiteit geword nadat 'n seun (13), Maandag daar verdrink het.
Die gemeenskap van Rosedale is hartseer en omgekrap oor die gebeure. Kerneels Kaptol, 'n leier in die gemeenskap, sê na al die klagtes oor die dam aan die raad, moet iemand verantwoordelik gehou word vir die beveiliging van die dam.
Kaptol sê hy het self, telkemale klagtes ingedien oor die dam by George-munisipaliteit, die raad asook by 'n raadslid, maar iets moes eers gebeur voor daar opgetree word. Hy sê hy is maar altyd die persoon wat kinders by die dam gaan verjaag, maar kinders bly kinders.
"Hulle sal in die bossies wegkruip tot ek weg is en dan net verder swem."
Volgens Kaptol kon hy nie Maandag al sy draaie kry nie, omdat hy gemeenskaps-vergaderings gehad het, en toe gebeur dit. Hy vertel die dam is voorheen gebruik om water aan diere te verskaf.
Daar was selfs 'n draadheining gespan, wat mettertyd weggedra is. Hy vertel ook 'n paar jaar gelede toe 'n kind in so 'n tipe dam in Rosedale verdrink het, is die dam leeggetap.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die oproep van die voorval het Maandagmiddag 15:20 deurgekom. Hy sê hulle is verwittig deur lede van die anti-grondbesettingseenheid van George wat toe reeds die seun se liggaam uit die water gehaal het.
"Die seun is later uitgeken as Ligwida Mamatu van Tsunami Park, Zone 9. Sy liggaam is daarna deur patologiese dienste verwyder."
Hy sê 'n geregtelike doodsondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die seun se dood te bevestig.
Munisipaliteit reageer
George-burgemeester, Leon van Wyk, deel sy innige meegevoel met die seun se familie met hul verlies. Volgens die George-munisipaliteit kan die dam nie net toegegooi word nie, aangesien dit as 'n amptelike waterbron by die nasionale departement van water en sanitasie geregistreer is.
Die dam is op 'n stuk grond wat voorheen 'n werkende plaas was. "Ons sal dus aansoek moet doen by die relevante departement voor daar gedink kan word om die dam op te vul. Dit kan ook daartoe lei dat die damwal kan breek."
Sekere faktore wat in ag geneem moet word rondom die toekoms van die dam sluit in water sekuriteit, of dit enige boerdery of lewensbestaan in die area ondersteun en of dit die afvloei van stormwater keer of enige ander omgewingsfaktore beïnvloed.
Intussen sal die munisipaliteit 'n kennisgewingbord oprig wat swem verbied.
Verwante artikel: | Boy drowns: Dam a danger to the community
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'