GEORGE NUUS - Die Tuinroete-DBV moes vure doodslaan ná 'n plasing op die Facebook-blad, Georgiete Staan Saam, verlede Woensdagmiddag, 4 Maart, 'n groot herrie ontketen het.
"So pas gesien hoe die SPCA 'n perd se keel afsny in Conville ten aanskoue van die publiek. Baie wreed voorgekom, sou liewer voorstel hulle dit meer privaat afhandel. Enige verduideliking hoekom dit gedoen was?" het die plasing gelui.
Die plasing is later deur die groep se administrateurs verwyder, maar nie voor dit talle kommentare en reaksies tot gevolg gehad het nie.
Die voorval
Vroeër die dag het 'n lid van die publiek inspekteur Colleen Thysse van 'n merrieperd met 'n beenbesering in kennis gestel.
"Toe Thysse op die toneel aankom kon sy sien die perd se regteragterbeen was ernstig beseer. Inspekteurs André Baartman en Henrico Pypers, asook die veearts, dr. Anne-Marie Huster, het ook na die toneel gegaan om bystand te verleen."
"Die veearts het bevestig dat die beenbreuk baie ernstig was en weens die aard van die besering is daar besluit om haar uit te sit deur 'n penpistool te gebruik. Dié metode was die vinnigste manier om die perd se lyding te stop. Die DBV moet altyd in die beste belang van die diere optree. Ons probeer so iets altyd subtiel en uit die oog doen, maar mense is van nature nuuskierig en kom altyd nader om te kyk wat aangaan," sê Bruyns.
Die plasing op Facebook.
Hoe werk 'n penpistool
'n Penpistool werk met 'n staalpen wat deur lug of 'n leë patroon aangedryf word. Dit word teen die dier se kop gehou en die pen word in die brein ingeskiet. Dit laat die dier breindood en sonder gevoel.
"Ná die penpistool gebruik word, móét die keel gesny word. Ons verstaan dit klink wreed, maar dit is prosedure en teen daardie tyd voel die dier niks nie. Aangesien ons in 'n woongebied was, kon ons nie 'n geweer gebruik om die perd te skiet nie. Ons werk is nie altyd maklik nie en ons moet soms bitter moeilike besluite neem," sê Bruyns.
Sy sê die penpistool is ook 'n veilige opsie aangesien dit moontlike dwaalkoeëls uitskakel.
"Die karkas word daarna deur een van die roofdierparke verwyder indien die eienaar nie die dier wil of kan begrawe nie. Dié parke gee nie vir hulle diere vleis van 'n dier waarop die stof wat gebruik word om diere uit te sit, gebruik is nie. Dus was die penpistoolmetode ons enigste opsie en kon ons verseker dat die dier se lyding onmiddellik gestop word en daar op 'n verantwoordelike manier van die karkas ontslae geraak word," sê Bruyns.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'