GEORGE NUUS - George-munisipaliteit het vandeesweek met die noodsaaklike vervanging van die dak van die Conville-gemeenskapsaal begin. Die dak het begin lek en kon nie meer herstel word nie.
Volgens die bestuurder van hulpdienste, Alwyn Joseph, is die dak reeds 40 jaar oud. Die Conville-gemeenskapsaal is in 1980 ingehuldig.
Die dak het intussen baie verweer en dit is noodsaaklik om die hele dak te vervang. Die vervangingswerk word ook nou gedurende ‘n ideale tyd van die Covid-19-pandemie gedoen, omdat die munisipale gemeenskapsale tans vir die publiek gesluit is.
Die totale koste vir die projek beloop net oor die R1 miljoen en die werk sal omtrent twee maande duur.
Die werk sal geen impak op die omliggende geboue, parkeergebiede en aktiwiteite hê nie. Intussen is die gebou ook omhein en veiligheidshokke (window cages) by vensters aangebring om vandalisme af te weer.
Vandalisme is 'n misdaad en kos belastingbetalers baie geld. Rapporteer mense wat met munisipale eiendom peuter, verf, breek of steel by die polisie en George-munisipaliteit (044 801 6350 of 044 801 6300 na-ure) sodra u dit sien gebeur.
As u foto's van die skuldiges in die daad kan neem sonder om uself in gevaar te stel, sal dit baie help.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'