GEORGE NUUS - Die pandemie het een van George se bekendste skole 'n kishou toegedien. Carpe Diem Skool vir kinders met gestremdhede kou harde bene nadat hul grootste fondsinsamelingsprojek, die glansgeleentheid Gourmets & Gourmands, weens Covid-19-inperkings die afgelope twee jaar nie kon plaasvind nie.
Boonop kon talle besighede, wat voorheen gereeld skenkings gemaak het nie daarmee voortgaan nie, aangesien hulle self sukkel om die mas op te kom.
Met 'n staatsubsidie wat slegs help met 'n deel van die lopende kostes, maak dié skool grootliks staat op skenkings en
geld uit die gemeenskap (lees die skoolhoof, Elzeth Grobler, se mooi brief aan die gemeenskap op die brieweblad, bladsy 14).
Laerskool George-Suid se bestuur het 'n groot fondsinsamelingsinisiatief vir Carpe Diem van stapel gestuur, wat op 14 Junie sal plaasvind.
Die geleentheid, 'Eden in Harmonie', is 'n sop-en-brood-aand wat in die stadsaal aangebied sal word. Verskeie skoolkore en welbekende plaaslike kunstenaars gaan tydens die geleentheid optree.
Die Omgee Loeriespan van LGS wil graag hê besighede en individue moet betrokke raak. Carpe Diem-skoolhoof Elzeth Grobler het gesê hulle skool is baie opgewonde oor Eden in Harmonie, "Ons waardeer elke skool wat gaan deelneem asook die gaskunstenaars wat hul tyd en talente skenk, in vandag se tye spreek hierdie gebaar van opoffering en ware omgee."
Intussen is daar ook baie ander maniere waarop mense Carpe Diem kan help.
Siphosetu Counter (regs) en 'n medeleerder van Carpe Diem sit handjie by om voertuie by Game Car Wash te laat blink tydens hul Ukuwela-program (skool-tot-werk).
Hier volg 'n kort opsomming van die projekte waar hulp benodig word:
Naaldwerk
Die skool het vroeër 'n redelike inkomste verdien deur die koshuiskamers tydens skoolvakansies aan toeriste uit te huur. Opknappingswerk is egter dringend nodig om die kamers op standaard te kry.
Die idee is dat naaldwerkklasse aanbied word en diegene wat dit bywoon beddegoed maak wat aan die skool geskenk word.
Matrasse
Daar is 'n groot behoefte aan matrasse vir die inblywende koshuisleerders. Besighede kan met 'n skenking van R5 000 help met die aankoop van 10 matrasse.
Kos
Die leerders van Carpe Diem ontvang daagliks 'n maaltyd by die skool, asook 'n kospakkie huis toe. Laerskool George-Suid het ook hier ingespring en 'n paar borge gekry wat help om die maaltye smaakliker te maak. Daar is egter steeds 'n behoefte aan daaglikse broodjies en borge vir die aankoop van brode.
Herstelwerk
Daar is verskeie hulpmiddels wat dringende herstelwerk benodig, soos 15 van die skool se rolstoele.
Ludick Swart maak reg vir 'n paar lengtes in die swembad by Carpe Diem Skool.
Toiletpapier
Vir elke skool wat hul maandelikse toiletpapiervoorraad by George Tissue bestel en Carpe Diem as verwysing gebruik, sal George Tissue 'n baal van 48 toiletrolle aan Carpe Diem skenk. Die doel is om uiteindelik hul hele maandelikse voorraad te skenk met behulp van die plaaslike skoolgemeenskap.
'Adopt-a-Carpie'
Deur die 'Adopt-a-Carpie'-projek kan individue of besighede help met die versorging van 'n leerder deur 'n maandelikse bydrae te skenk.
Vir meer inligting oor 'Eden in Harmonie' stuur 'n e-pos na bemarking@lgs.co.za of vir navrae oor enige van die ander projekte, stuur 'n e-pos na carpediemgeorge@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'