GEORGE NUUS - 'n Gesamentlike naweekpatrollie is onlangs deur die buurtwagte van Conville, Proteapark en Rosemoor gedoen.
Rudy Lewis, voorsitter van Conville se buurtwag, het gesê hy is bekommerd oor die aantal jeugdiges wat by misdaad betrokke is.
Tydens die gesamentlike patrollie is 'n sak met geld en dagga by 'n groep skoolseuns gevind wat met 'n klankboks musiek gespeel het op die hoek van Scottlandstraat regoor 'n bekende plaaslike kroeg. "Die dagga was openlik aan die klankboks vasgemaak. Die seun wie se dagga dit was, het bevestig dat hy twee daggabome in hul erf het en dat hy die dagga verkoop. Die vraag is, weet die ouers dat hy dagga verkoop? Ons jeug is besig om in dwelm- en alkoholverslawing en bendebedrywighede te verval. Ons as gemeenskap sal moet saamstaan om dit te keer."
Wapens wat tydens die gesamentlike operasie gekonfiskeer is.
In Rosemoor het die patrollie op 'n skoolseun afgekom wat in 'n geveg betrokke was met gevaarlike wapens en in Conville is 'n jong seun ernstig aangerand op die hoek van Swawel- en Suikerbekkiestraat. "Ons as buurtwag kan nie al die strate op een slag patrolleer en keer dat sulke voorvalle plaasvind nie. Die betrokkenheid van die gemeenskap is uiters noodsaaklik. Ons nooi inwoners om by die buurtwag aan te sluit. Saam kan ons 'n beter en veiliger gemeenskap vir almal skep," sê Lewis.
"Ons is ook bly oor die Parkdene-buurtwag wat op dreef is. Ons hoop om binnekort met hulle ook saam te werk. Ons wens hulle alle sterke toe met die bekamping van misdaad. Dit is nie 'n maklike taak nie, maar die Here bewaar en beskerm ons.
"Dankie vir die mense wat vir ons bid as ons patrolleer en dankie aan konstabels Daniël Esau en Sidney Gaza van die SAPD wat ons bygestaan het met die gesamentlike operasie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'